|

Drie boere sterf in bloedbad-naweek op plase

Die land is die afgelope naweek opnuut geruk nadat drie boere in sewe aanvalle vermoor is.

Jeffrey Zetler (62), eienaar van die bekende Mooiberge-aarbeiplaas buite Stellenbosch is aan steekwonde dood nadat aanvallers hom by die plaashek ingewag het.

In die tweede en derde aanval is Kallie Schoonraad (47) op sy plaas naby Rustenburg in die bors geskiet, terwyl Peter Dawson (64) naby Hartbeespoort ook in ’n rooftog doodgeskiet is.

Meer as 100 mense is sedert die begin van die jaar in plaasaanvalle vermoor.

Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder: gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê die jongste vlaag aanvalle bevestig net weer dat misdadigers hul aanvalle goed beplan en dikwels oor naweke uitvoer.

“Die tragiese dood van drie boere die afgelope naweek bevestig opnuut dat mense baie meer paraat moet wees en alles moontlik moet doen om hulself te beveilig.”

Van Dalen sê mense in landelike gebiede moet te alle tye waaksaam wees en bly. Hy meen mense wat sagte teikens is moet veral op hul roetine let. “Aan die een kant is roetine goed omdat jou bure weet wat aangaan en weet dat jy veilig is. Aan die ander kant is roetine  sleg omdat aanvallers hul slagoffers lank dophou en deeglike bewus is van hul kom en gaan. Dit is ook so in die geval met mense wat patrollies ry. As aanvallers weet die patrollies word elke keer op presies dieselfde tyd uitgevoer, beplan hulle hul aanvalle rondom dit.

Van Dalen sê voorts mense moenie nalatig wees wanneer dit by hul veiligheid kom nie. Mense wat in die aand of nag of vroeë oggendure na buite gaan as die honde blaf of hulle geluide hoor, stel hulself veral in gevaar. Dit geld ook vir diegene wat saans buitekant braai en nie hul deure gesluit hou nie.

Volgens van Dalen is daar klein dingetjies wat mense kan doen om hulself beter te beveilig. “Dit is belangrik dat boere ook sorg dat hul werkers onder beheer is. Aan die einde van die week word werkers ook lone betaal en alkohol-misbruik kan daarmee gepaard gaan. Boere moet voorkom dat hulle in situasies beland waar hulle moontlik aangeval kan word.”

AfriForum het onlangs ’n assesseringsgids vir plaasveiligheid bekendgestel. Dit is ’n gids met 90 vrae hoe landelike gemeenskappe kan meet hoe veilig hulle is en wat hulle kan doen om veiliger te wees. Die gids kan bekom word deur ’n versoek te stuur na veiligheid@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings