Dringende hof laat Eskom toe om krag van betalende publiek te sny


AfriForum en AfriSake het vandag hulle teleurstelling uitgespreek nadat regter Fabricius in Eskom se guns beslis het wat die kragvoorsiener nou toelaat om die publiek se kragtoevoer te sny as gevolg van verskeie munisipaliteite se versuim om hul Eskom-rekeninge te betaal.Eskom het oor die Kersseisoen sy planne aangekondig om kragtoevoer na inwoners van verskeie munisipaliteite in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat af te sny omdat sekere munisipaliteite versuim het om gelde wat vir elektrisiteitsverskaffing van inwoners ingevorder is aan Eskom oor te betaal. Miljarde rande se elektrisiteitsgelde is deur hierdie munisipaliteite aan Eskom verskuldig.
Die munisipaliteite is Kamiesberg (Garies, Hondeklipbaai en Kamieskroon), Thembelihle (Hopetown en Strydenburg), Moqhaka (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon), Masilonyana (Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg), Nketoana (Reitz, Lindley en Petrus Steyn), Mantsopa (Excelsior, Ladybrand en Tweespruit), Tokologo (Boshof en Dealesville), Nala (Bothaville en Wesselsbron) en Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux en Rosendal).
Die hof het gedurende die dringende aansoek argumente aangeraak wat AfriForum en AfriSake voorberei het vir die hoof-hofaansoek op 22 Maart 2017. Vandag se uitspraak dui dat daardie argumente nie geslaag het nie en beide organisasies sal moet oorweeg of hulle wel nog kan voortgaan met die hoofaansoek en of die aansoek laat vaar gaan word.
AfriForum en AfriSake bly van mening dat Eskom, as ’n staatsbeheerde maatskappy, ander regsmiddele tot sy beskikking het om sy tariewe in te vorder. Om betalende en wetsgehoorsame inwoners en instansies te straf vir die nalatigheid van onbekwame munisipale administrasies maak nie sin nie. Die benadering van Eskom om te dreig met summiere kragafsluitings van volledige munisipale gebiede bly ’n drakoniese en ongrondwetlike maatreël wat neerkom op kollektiewe benadeling van betalers, sowel as wanbetalers.
Volgens Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake van AfriForum, is elektrisiteit geklassifiseer as ’n essensiële diens en word betalende dienstegebruikers, ouetehuise, hospitale, skole en nooddienste benadeel weens die kultuur van wanbetaling onder sekere inwoners en die wanbestuur van munisipaliteite deur onbekwame amptenare. Munisipaliteite tesame met die provinsies en nasionale regering moet hulle verantwoordelikhede nakom teenoor Eskom.

“Ons het simpatie met Eskom en sy frustrasies met munisipale amptenare, maar terselfdertyd kan Eskom nie munisipaliteite alleenlik verantwoordelik hou vir sy finansiële situasie, terwyl Soweto alleen soortgelyke skuld het as die top tien agterstallige munisipaliteite nie. Vrae moet gevra word oor waarom verafgeleë plekke gestraf word en nie Soweto nie?” sê Pawson.

Soortgelyke plasings