|

Dronkbestuurder wat verloofdes se dood veroorsaak, 8 jaar tronkstraf opgelê

Andrew Kagiso Malele, wat erken het dat hy die dood van Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) op 23 Desember 2017 veroorsaak het, is vandag in die Streekhof in Pretoria, effektief agt jaar tronk toe gestuur.

Hy het vroeër ná ’n vertraging van vyf jaar skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag en dronkbestuur. Hy is agt jaar tronkstraf op die aanklag van strafbare manslag en drie jaar vir dronkbestuur opgelê wat samelopend uitgedien sal word. Sy bestuurslisensie is ook opgeskort.

Die saak is uiteindelik suksesvol afgehandel nadat Ursula Kors, ma van Coen, AfriForum se privaatvervolgingseenheid destyds genader het om in te gryp.

Die paartjie is dood toe Malele op die N4-snelweg buite Pretoria beheer oor sy voertuig verloor en teen die verloofde paartjie se voertuig gebots het. Sowel Coen as Kennedy is op slag dood.

Kors het die privaatvervolgingseenheid genader nadat die saak vir jare nie gevorder het nie. Die eenheid het vasgestel dat die dossier “vermis” geraak het, waarna hulle nou saam met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak en sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak gewerk het om die dossier opnuut op te bou sodat die beskuldigde vervolg kon word.

Soortgelyke plasings