Druk van AfriForum lei tot verandering van besluite deur Departement van Sport, Kuns en Kultuur

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se besluit om te herbesin oor die verkrygingsprosesse wat deur die departement daargestel is. AfriForum het op 23 Mei 2022 ’n dringende skrywe aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur gestuur rakende hul besluit om verkrygingsprosesse op ys te plaas, wat sou beteken dat nasionale kampioenskappe vir skolesport ook nie soos beplan sou kon voortgaan nie. Hierdie besluit was gegrond op die valse voorwendsel dat die verkrygingproses radikaal hersien moes word ná die opskorting van bepalings van die Voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 vir 12 maande.

AfriForum het aangevoer dat die verlies van geleenthede om aan vergaderings deel te neem nie ligtelik opgeneem moet word nie, en dat dit nie deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur regverdig kan word nie. Die verkryging van goedere en dienste wat nodig is om nasionale skolesport kampioenskappe aan te bied, kan nie vir ’n onbepaalde tyd uitgestel word terwyl jong atlete in die proses benadeel word nie.

Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum, noem dat hierdie besluit net weereens bewys dat die departement nie in voeling is met die daadwerklike impak wat hulle besluite op gemeenskappe en kinders se lewens het nie. “Hierdie besluit is geneem sonder om in ag te neem dat kinders reeds vir maande lank voorberei om vir hierdie kampioenskappe te kwalifiseer om hul talente ten toon te stel. Deelname aan en prestasies by hierdie kampioenskappe maak deure vir hierdie kinders oop en ons mag nie toelaat dat hardwerkende kinders van hierdie geleenthede ontneem word as gevolg van oningeligte amptenare se ongegronde besluite nie.”

Peters noem verder dat die organisasie kennis geneem het daarvan dat die departement die proses, waardeur die privaatsektor die nodige goedere en dienste vir die aanbied van hierdie kampioenskappe bekom het, gestop het. “Hierdie besluit is uiters kommerwekkend en is totaal teenstrydig met die departement se doelwitte in terme van jeugontwikkeling en nasie bou in Suid-Afrika. Die privaatsektor speel ’n kritiese rol wanneer dit by die ontwikkeling van Suid-Afrika se ekonomie kom en hierdie geleenthede bied aan hierdie rolspelers die geleentheid om ’n daadwerklike impak op hul direkte gemeenskappe te maak.”

AfriForum beskou die departement se dringendheid om hierdie besluit om te swaai as ’n reusesukses en die organisasie hoop dat sy betrokkenheid in hierdie saak vir talle individue nuwe hoop sal gee. “Dit dien as bewys dat dringende optrede deur organisasies soos AfriForum van kritiese belang is en ons moedig die publiek en privaatsektor aan om met ons saam te werk in hierdie tipe kwessies en projekte. Saam kan ons ’n daadwerklike bydra lewer om gemeenskappe uit te bou en te versterk,” sluit Peters af.

Soortgelyke plasings