|

Dubbel & Dwars in Afrikaans

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch


Om lief te wees vir Afrikaans is nie ’n keuse of ’n besluit nie, dis ‘n onlosmaaklike deel van wie ons is.
So sê Sallas de Jager van die Afrikaanse musiekgroep Klopjag, een van die vele Afrikaanse kunstenaars wat vermaak gaan verskaf by die “Dubbel & Dwars in Afrikaans”-musiekfees by Wiesbaden in Bloemfontein. Die geleentheid word aangebied deur AfriForum Jeug in samewerking met Solidariteit en Radio Rosestad en sal op 30 Julie plaasvind.

Die musiekfees word gehou na afloop van die onlangse aanslag op Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die vakbond Solidariteit het verlede maand ’n omvattende veldtog vir die behoud van Afrikaans by die universiteit van stapel gestuur nadat die prof. Jonathan Jansen, rektor van UV, sy ondersteuning vir die wegdoen van Afrikaans as onderrigtaal bekend gemaak het.

Volgens Johan Botha, hoof van die professionele bedryf in Solidariteit, sal die verwydering van Afrikaans langtermyn gevolge inhou. “Solidariteit meen die verwydering van Afrikaans op Kovsies sal nie net Afrikaans as akademiese taal marginaliseer nie. Dit sal ook ons lede direk raak deurdat dit ’n kultuur van stroomroller-transformasie ten opsigte van die universiteit se personeel onder bestuur sal aanwakker”, het Botha in ’n mediaverklaring gesê.

AfriForum Jeug het besluit om vir studente die geleentheid te bied om trots te wees op Afrikaans en om vir hul taal op te staan. Daar is vandeesmaand met ’n petisie op die Kovsies-kampus begin vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal.
Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug sê: “Ons wil studente aanmoedig om hul grondwetlike reg op moedertaal-onderrig op te eis.”
Met die petisie wil AfriForum Jeug ook aan mense die geleentheid gee om Afrikaans te vier. Ander kunstenaars wat aan die “Dubbel & Dwars”-fees gaan deelneem sluit in Die Heuwels Fantasties, Saarkie, Beeskraal, Klopjag en K2.

De Jager van Klopjag het gesê hy sien uit om deel te wees van die aand. “Ons toer deesdae baie minder en dus sien mense ons nie meer so baie buite Gauteng nie. Dis ook lekker om deel te wees van die groep kunstenaars wat betrokke is by die geleentheid. Ek dink dit gaan ‘n baie lekker aand wees.”
Hy het bygevoeg dat Afrikaans ’n geliefkoosde taal is. “Dis die taal waarin ons dink, skryf, lag en huil, liefde gee en ontvang.”

Elize Fouche, woordvoerder van die vroue musiektrio SAARKIE, het gesê hulle is ook bereid om te veg vir Afrikaans. “SAARKIE is lief vir Afrikaans, want dis ons moedertaal, ryk aan uitdrukkings en beskrywende naamwoorde. Stories is soveel mooier in Afrikaans. Ons is lief vir Afrikaans en wil hê dit moet aanhou voortbestaan.”
Dié sanggroep is ook lede van AfriForum.

AfriForum Jeug wil ook deur die veldtog vir die behoud van Afrikaans en die musiekfees UV-studente aanmoedig om vir die verteenwoordigende studenteraad (VSR) te staan. Dit is deur die VSR dat aanslae teen Afrikaans beveg kan word en student ’n stem teen bestuur te kry.

Kliek hier om JOU kaartjie te bespreek: http://itickets.co.za/events/348409.html

 

Soortgelyke plasings