Duduzane Zuma se hofverskyning ’n oorwinning vir die Dube-familie en Gerrie Nel – AfriForum sal hom nie laat intimideer nie

 
Die burgerregtewaghond AfriForum sê dat Duduzane Zuma se verskyning vandag in die Randburgse Landdroshof op aanklagte van strafbare manslag nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie, adv. Gerrie Nel en AfriForum is nie, maar ook vir almal in die land wat die beginsel van gelykheid voor die reg ondersteun.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedwing deur AfriForum se bereidwilligheid om privaat vervolging in te stel om ’n ommekeer te maak en Zuma Jr. wel te vervolg. Dít nadat die NVG aanvanklik besluit het om Zuma Jr. nie te vervolg nie in verband met ’n motorongeluk wat op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng plaasgevind het en waarin Pumzile Dube, ’n jong vroulike passasier, op slag dood is. “Dit bly eerstens die NVG se plig om oortreders te vervolg en wanneer die moontlikheid van privaat vervolging die NVG dwing om sy werk te doen, beskou AfriForum dit as ’n oorwinning,” voeg Kriel by.

Die besluit om Zuma Jr. te vervolg is volgens Kriel ook ’n oorwinning vir die Dube-familie, wat nou uiteindelik ná meer as vier jaar kan toekyk hoe geregtigheid geskied. Kriel het die Dube-familie geloof dat hulle bereid was om aan te dring dat vervolging plaasvind en het aangedui dat AfriForum sal voortgaan om die familie in dié saak by te staan.

Met betrekking tot Black First Land First (BLF) se poging om hom fisies en verbaal buite die hof te probeer intimideer, sê Kriel dat AfriForum hom nie sal laat intimideer deur ’n klein groepie randfigure wat deur die Guptas befonds word nie. “Inteendeel, die BLF se optrede maak AfriForum meer vasberade om toe te sien dat geregtigheid vir die Dube-familie geskied,” sê Kriel. Volgens hom kan die meerderheid mense in die land hulself nie assosieer met die onverdraagsaamheid en rassisme wat die BLF verteenwoordig nie en gaan AfriForum nie aan die BLF verdere publisiteit gee deur ’n klag teen hulle by die polisie aanhangig te maak nie.

Soortgelyke plasings