|

Duduzane Zuma se regspan vra ontslag, wil nie hê hy moet self getuig

Die regspan van Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het vandag ’n aansoek om ontslag by die Randburgse landdroshof ingedien waar hy op aanklagte van strafbare manslag en nalatigheid verskyn.

Oudpres. Jacob Zuma het tydens die hofverrigtinge sy opwagting gemaak om sy seun te ondersteun. Hy het ook in ’n ligte luim gesprekke met adv. Mike Hellens (SC) en die res van Zuma Jr. se regspan gevoer.

Hellens het aangevoer dat die staat in gebreke gebly het om die klagte van strafbare manslag en nalatigheid te bewys. Volgens hom het die staat nie getuies of getuienis om op staat te maak nie om sy saak te bewys nie.

Hellens het ook die relevansie van sommige getuies se getuienis bevraagteken.

In sy aansoek om ontslag het hy gesê omdat die staat se saak swak is en daar nie gronde vir skuldigbevinding is nie, mag Zuma Jr. nie geroep word om self te getuig nie. So ’n besluit sal ongrondwetlik wees en ruimte skep dat Zuma Jr. homself in die proses inkrimineer. “Die staat het niks en ons gaan nêrens met die saak nie,” het Hellens geargumenteer.

Voordat die verdediging vir ontslag gevra het, het die staat nog twee getuienis geroep voordat hy sy saak gesluit het.

Die eerste getuie was Shylet Fikile Ndlangise, ’n passasier wat tydens die ongeluk op 1 Februarie 2014 beseer is nadat Zuma Jr. se luukse Porsche 911 met die minibus-taxi gebots het waarin hulle gery het.

Sy het getuig dat daar ’n trefslag van agter was wat veroorsaak het dat die taxi omgeswaai het en in die teenoorgestelde rigting gestaan het. Met die geweld van die impak het die taxi amper ook op sy sy beland voordat dit terug op die wiele geland het. Die botsing het tot gevolg gehad dat Phumzile Dube, wat langs haar gesit het, by die venster uitgehang het. Sy het gesien dat sy dood is.

Ndlangise se hand is in die ongeluk beseer en nadat sy uit die taxi geklim het, het Zuma Jr. aangebied dat sy in sy motor sit omdat dit steeds gereën het. Sy het getuig dat sy nie geweet het wie hy is nie en ook nie dat hy in die ongeluk betrokke was nie. Sy het gedink dit is net iemand wat wil help.

Sy het die volgende dag in die hospitaal verneem wie hy is.

Johan van Loggerenberg was die tweede getuie. Hy was ten tyde van die ongeluk in diens van ’n prokureursfirma wat eise teen die Padongelukkefonds (POF) hanteer. Hy het meer as 40 jaar ondervinding in die polisie, waarvan baie jare ook in die verkeersafdeling was.

Hy het getuig dat hy foto’s op die toneel van die voertuie geneem het en sketse gemaak het van die toneel.

Volgens Van Loggerenberg was daar geen stilstaande water op die padoppervlak toe hy op die toneel was nie. Hy kon egter ook nie van Zuma Jr. se verduideliking verskil dat sy Porsche ’n waterpoel getref en gegly het nie. Dit het volgens Zuma Jr. veroorsaak dat hy beheer oor die voertuig verloor het.

Van Loggerenberg het ook getuienis gelewer oor skade aan Zuma se voertuig en aan die minibus-taxi. Hy het aangevoer dat wit merke aan die voorkant van Zuma se voertuig daarop kan dui dat hy die taxi redelik hoog op aan die regterkant getref het. ’n Spesialisverslag van die verdediging trek dit in twyfel.

Van Loggerenberg se gevolgtrekking is dat die ongeluk moontlik deur ’n menslike fout veroorsaak is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Zuma Jr. te vervolg nie, maar nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer. Elias Maangwale, ondersoeker vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, was weer vandag by die hof om die Dube-familie te ondersteun.

Die saak duur voort.

Soortgelyke plasings