|

Duisende Sasol-werkers staak oor wit werkers van aandeleskema uitgesluit is

Deur Mariska Nanni

My velkleur bepaal nie my waarde nie.

Só lui een van die tientalle plakkate wat vandag tydens die vakbond Solidariteit se staking by Sasol in Secunda vertoon is.

Meer as ‘n duisend lede en ondersteuners van Solidariteit en werknemers van Sasol het vandag saam gestaak uit protes teen Sasol se besluit om wit werknemers op grond van hul ras van sy nuwe personeelaandeleskema, Khanyisa, uit te sluit.

Luidens inligting wat op die Sasol Khanyisa-webblad gepubliseer is, mag wit werknemers en buitelanders (“foreign nationals”) nie aandele in hierdie skema kry nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen dit is ‘n skande dat Sasol sy werknemers op grond van ras verdeel. “Die oplossing is nie om dit wat werknemers regmatig toekom weg te vat nie, maar om vir ander by te voeg. Ons glo in gelykheid en menswaardigheid. Ons is eersteklaswerkers en eersteklasbelastingbetalers. Sasol kan nie nou sy werknemers, wat jare aan die maatskappy lojaal is, nou soos tweedeklaswerknemers behandel, maar steeds eersteklaswerk verwag nie.”

Buys sê die grens tussen reg en verkeerd vervaag en baie mense is nie meer bereid om standpunt in te neem teen dit wat verkeerd is nie. “Die opkoms vandag bewys dat daar wel nog mense is wat opstaan vir dit wat reg is. Ons is nie stakers nie. Dit is die laaste uitkoms. Hierdie is ‘n belange-dispuut. Ons het mooi, lank en reguit met Sasol gepraat. Praat help egter nie meer met Sasol nie. Sasol is besig om vyande van vriende te maak. Hulle skop ‘n mak hond wat hulle al jare lank op pas.”

’n Werknemer van Sasol, wat anoniem wil bly, het gesê dat hulle hul vaardighede sal weerhou totdat hulle kry wat hulle wil hê.

Lucas Lekoloane, wat al 15 jaar ‘n unieverteenwoordiger by Solidariteit is, het Sasol met ‘n klavier vergelyk. “As jy net op die swart klawers fokus, gaan die hele klavier vals wees.”

 

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dit is onaanvaarbaar dat daar binne ’n demokrasie nog op grond van ras gediskrimineer word. “Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie. Sasol se besluit met die aandeleskema het tot gevolg dat iemand wat al 40 jaar lank vir Sasol werk, niks kry nie terwyl iemand wat ‘n week daar werk R500 000 kry. Sasol het ’n verlede van inklusiwiteit, maar ’n toekoms van eksklusiwiteit.”

Volgens Hermann moet dit oor balans gaan. “Ons moet ’n oplossing van inklusiwiteit bereik, soos met die mynwerkershandves.”

Hy het almal wat aan die staking deelneem bedank en gesê: “Hierdie gaan nie oor wit of swart nie, maar oor reg en verkeerd. Duisende werkers het vandag gesê: Genoeg is genoeg.”

Hy meen werkers is met rede kwaad omdat hulle deur Sasol op ʼn suiwer rasgebaseerde beginsel uitgesluit word en die gemeenskap het vandag gewys dat hulle saam met die werkers kwaad is en bereid is om hul stem te laat hoor.

Hermann het ’n memorandum met die vakbond se eise aan verteenwoordigers van Sasol oorhandig.

 

 

Soortgelyke plasings