Duisende trek op na Uniegebou teen plaasmoorde


AfriForum saam met verskeie burgerlike organisasies en opposisiepartye het vandag aan ’n protesoptog na die Uniegebou deelgeneem om ’n memorandum aan die staatspresident te oorhandig, waarin die prioritisering van plaasmoorde geëis word. Ten spyte van konstante reën het nagenoeg 1 500 mense die nat weer aangedurf om aan die optog deel te neem.
Die organisasies wat aan hierdie optog deelgeneem het, sluit die burgerregte-organisasie AfriForum, die vakbond Solidariteit, die landbou-unie TLU SA, asook opposisiepartye naamlik die DA, die VF Plus en Cope in.
Die memorandum is in ontvangs geneem deur Eddie Ntsoani, ’n verteenwoordiger van die minister van polisie, Fikile Mbalula. Die optog het vreedsaam en sonder enige insidente geskied.

“Plaasmoorde is ’n nasionale krisis en dit moet as sodanig hanteer word,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. Roets het bygevoeg dat AfriForum nie glo dat boere en plaaswerkers se lewens belangriker as dié van ander landsburgers is nie, maar dat hierdie gemeenskap disproporsioneel geteiken word en dat die aanvalle ’n buitengewone impak op die land het. “Die uniekheid van plaasmoorde regverdig ’n gefokusde teenstrategie.”

Soortgelyke plasings