Duisende vra AfriForum se hulp teen Centurion-grondeis


AfriForum het ná die loods van sy aksie om die grondeis in Centurion te stuit, reeds duisende navrae en mandate van lede van die gemeenskap ontvang wat deur dié eis geraak word.
Sedert die bekendmaking van AfriForum se betrokkenheid by die teenstaan van die eis is die gemeenskap besig om sy stem dik te maak teen die skynbare opportunistiese eis van die 39 families wat beweer dat die sowat 4 000 hektaar waarop die grondeis betrekking het hulle toekom. Hierdie eis raak die eiendomsreg van nagenoeg 2 000 huisgesinne.

“Dit is vir AfriForum verblydend dat die gemeenskap die erns van die aangeleentheid besef, en ons koester die verwagting dat die lede van die gemeenskap wat nog nie hul mandaat aan AfriForum of ander plaaslike organisasies soos ReThRo gegee het nie, dit eersdaags sal doen om die AfriForum-alliansie se hande nóg meer te versterk,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheidsafdeling.

AfriForum hou ’n vergadering op 19 Februarie 2019 om 19:00 by Leriba Lodge in Centurion, waar bekommerde lede van die gemeenskap meer inligting kan bekom en hul griewe kan opper.
Vir verdere besonderhede oor die vergadering en die eis kan die webwerf www.grondeis.co.za besoek word.

Soortgelyke plasings