| | |

Dwarskersbos: AfriForum eis antwoorde oor dubbele standaarde van heraangestelde munisipale bestuurder

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek ’n skrywe aan die burgemeester van die Bergrivier Munisipaliteit gerig oor bewerings dat adv. Hanlie Linde reeds op 20 Julie weer haar werksaamhede as munisipale bestuurder hervat het. Dit volg nadat die eenheid op 16 Julie verskeie inwoners van Dwarskersbos bygestaan het in die munisipale ondersoek na die beweerde wangedrag van Jerome Pedro en Tertius Pool, verkeersbeamptes van die Bergrivier Munisipaliteit, asook adv. Linde, tydens die inperking.

Die privaatvervolgingseenheid het verder verneem dat dissiplinêre optrede ná afloop van ’n spesiale sitting van die munisipale raad op 18 Julie teen Pedro geneem gaan word, maar dat geen aksie teen adv. Linde geneem gaan word nie.

Ludwig Gericke en sy vrou Mari het in Julie in hul getuienis gesê adv. Linde se bevinding in die aanvanklike munisipale ondersoek, asook haar uitlatings oor die voorval was ontstellend en vernederend. Die munisipaliteit, onder leiding van adv. Linde, het aanvanklik self die ondersoek teen die optrede van Pedro en Pool se hantering van gemeenskapslede behartig en bevind dat daar niks met hulle optrede geskort het nie. Die bevindinge is met die media gedeel. Adv. Linde het ook op haar privaat blog neerhalende inskrywings oor die Gerickes gemaak. Nie die burgemeester of die munisipaliteit het sedertdien iets gedoen om die persepsies wat deur adv. Linde se stellings geskep is, in die openbaar reg te stel nie.

“Wanneer ’n mens die aard van die munisipale bestuurder se openbare opmerkings in aanmerking neem, is die stilte van die burgemeesterskantoor onrusbarend. Die afleiding kan dus gemaak word dat dié kantoor adv. Linde se verkleinerende opmerkings – dat sekere lede van hulle gemeenskap die virus verdien – ondersteun en goedkeur,” sê Natasha Venter, bestuurder van Veldtogte by AfriForum.

Die getuies het tydens die formele ondersoek die geleentheid gekry om op Pedro en Pool se weergawes kommentaar te lewer. Adv. Etienne Vermaak, voorsitter van die munisipale ondersoek wat in Julie gedoen is, het egter nooit tydens die ondersoek die munisipale bestuurder se weergawe van die gebeure of die siening van die Raad aan AfriForum se kliënte voorgehou nie. Die afleiding dat die opmerkings en optrede van die munisipale bestuurder waarskynlik hulle goedkeuring wegdra, word bevestig deur die stilswye van die Bergrivier Munisipaliteit hieroor.

“Die privaatvervolgingseenheid sien al hoe meer die verontrustende verskynsel dat verkose amptenare skuil agter prokureurs en amptelike prosesse, eerder as om die gemeenskappe te dien wat hulle tot hul posisies verkies het. Dit is betreurenswaardig dat die gemeenskapslede AfriForum in die eerste plek moes nader voordat die munisipaliteit na hulle weergawes van gebeure wou luister,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings