|

DWS-waterplan sonder opknappingstrategie gedoem – AfriForum

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se planne vir watersekerheid en water- en sanitasiedienslewering sal futiel wees as dit nie ook daadwerklike planne vir die opknapping van munisipale verspreidingsnetwerke insluit nie. Dit meen AfriForum is van kritieke belang vir die sukses van volhoubare watervoorsiening in Suid-Afrika en dit blyk dat die DWS se plan wat gister voorgelê is, nie oplossings vir dié ernstige krisis in watervoorsiening bied nie.

Meer as 40% van skoon drinkwater landswyd gaan verlore as gevolg van lekkasies – dít is selfs hoër in Gautengse munisipaliteite en in die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit waar waar tot 57% van drinkwater verlore gaan. Hoewel die DWS beoog om verder in nasionale waterinfrastruktuurprojekte te belê om voorsiening te maak vir snelgroeiende bevolkings in Gauteng en die eThekwini-metro, bly die olifant in die vertrek volgens AfriForum die groot hoeveelhede drinkwater wat in hierdie metro’s verlore gaan.  

“Dit help veel dat reuseprojekte vir die grootmaatvoorsiening van water teen astronomiese kostes aangepak word, maar uiteindelik gaan bykans die helfte van die water wat voorsien word, nooit die eindverbruiker bereik nie. Dit beteken ook dat ’n bose kringloop voortgesit word, waar munisipaliteite ’n potensiële bron van inkomste verloor, wat daartoe bydra dat instandhouding van munisipale infrastruktuur agterweë bly. ’n Verdere uitdaging is dat hierdie munisipaliteite gereeld nie waterrade wat water in grootmaat aan munisipaliteite voorsien, soos Rand Water of Umgeni Water, kan betaal nie, wat op sy beurt waterrade ook onder groot druk plaas. Dit is nie ’n volhoubare model nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. 

Om die droewige prestasie van munisipale water- en sanitasiedienslewering aan te roer, het die DWS reeds stappe gedoen om die Wet op Waterdienste 108 van 1997 sodanig te wysig dat waterdiensteverskaffers voortaan gelisensieer sal moet word en aan streng bevoegdheidsvereistes sal moet voldoen om sodoende die standaard van dienslewering te verseker. Hierdie voorgestelde wysigings moet egter nog deur die parlement goedgekeur word.

AfriForum het wel vroeër vandeesweek ’n bemoedigende gesprek met amptenare van die DWS gevoer, waartydens daar bevestig is dat die DWS onlangs ’n beleid geïmplementeer het om sukkelende munisipaliteite aan te moedig om met die privaat sektor, gemeenskapsgebaseerde organisasies en die burgerlike samelewing saam te werk om water- en sanitasiedienslewering te verbeter. Hierdie sentiment is ook onlangs deur president Cyril Ramaphosa uitgespreek toe hy beklemtoon het dat samewerking nodig is om die land te herstel en te bou. Adjunkpresident Paul Mashatile en die voormalige minister van die DWS, Senzo Mchunu, het ook in April vanjaar aangekondig dat die nasionale regering bereid is om AfriForum en ander rolspelers in die burgerlike gemeenskap by die regering se watertaakspan te betrek, maar AfriForum het nog geen antwoorde gekry op ’n uitnodiging vir ’n dringende vergadering met hulle nie. 

“AfriForum glo vas dat Suid-Afrikaners se toekomstige watersekerheid in die samewerking tussen gemeenskappe en die regering lê. Terwyl die regte geluide van die regering se kant af kom, kan ons nie op die regering wag nie. Ons sal voortgaan om ons gemeenskappe toe te rus en by te staan om hulle watersekerheid te verseker,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings