|

Eerste Afrikaanse selfoondiens ter wêreld bekend gestel

AfriFoon, die eerste selfoondiens in die wêreld wat alle bemarking, korrespondensie, kontrakte, verkoopaksies en dienslewering slegs in Afrikaans aanbied, is gister tydens ʼn spoggeleentheid in Centurion bekend gestel.

Dié selfoondiens is op die been gebring om Afrikaans in die telekommunikasiespeelveld te bevorder en ’n belangrike bydrae te lewer tot die uitbou van Afrikaans in die tegnologiesektor.

Die Afrikaanse sangers Dewald Wasserfall en Refenste het tydens dié geleentheid vermaak verskaf.

Wasserfall het aan Forum Nuus gesê dat hy baie beïndruk met dié unieke selfoondiens is en meen hy sal só ʼn inisiatief beslis ondersteun.
“Ek dink hierdie inisiatief is een waarop Afrikaanse mense baie trots kan wees. Dis lekker om te sien wat ons alles kan bereik en ook opwindend om te sien hoe Afrikaans bevorder kan word in die tegnologiebedryf.”

Volgens AfriFoon toon navorsing dat daar ’n groot behoefte aan moedertaaldiensverskaffers is en AfriFoon wil met hul diensverskaffing en produkreeks dié behoefte in die mark vul.

Waardetoegevoegde diensverskaffers en vennote het saamgespan om optimale dienslewering te verseker. AfriFoon word gerugsteun deur GloCell en funksioneer op die Cell C-netwerk.

AfriFoon-kliënte kan ook uit eie keuse ʼn bydrae maak tot dié diensverskaffer se Afrikaanse opleidingstrust. Dié opleidingstrust is ʼn fonds wat gebruik gaan word om op verskeie maniere opleiding aan Afrikaanse studente te bied om hulle te help om hul drome te verwesenlik.

“Dit is baie belangrik dat Afrikaans bevorder word in alle ondernemings. Afrikaans is een van Suid-Afrika se amptelike tale en moet ook as belangrike taal in die sakesektor beskou word,” meen Beatrice Pretorius, AfriFoon woordvoerder.

AfriFoon gee 5% korting op nuwe kontrakte wat op verskeie maniere aangewend kan word. Dié korting kan óf aan die opleidingstrust geskenk word óf intekenaars kan kies dat die korting van hul persoonlike rekening afgetrek word.

Om jou kwotasie van AfriFoon te kry, SMS jou naam na 45114 (R1) en ʼn agent sal jou skakel.

Soortgelyke plasings