|

Eerste sooi vir Sol-Tech se nuwe kampus is vandag gespit

Die eerste sooi vir Sol-Tech, die beroepsopleidingskollege van Solidariteit, se nuwe kampus ter waarde van R300 miljoen is vandag in Centurion gespit.

“Teen 2021 sal hierdie nie meer ’n leë stuk grond wees nie. ’n Miljoen stene gaan ’n nuwe kampus bou wat ’n lewende monument van hoop sal wees,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Die kampus word opgerig deur middel van ’n vennootskap tussen Sol-Tech, Solidariteit en Kanton, die eiendomsbeleggingsmaatskappy. Kanton het uit Solidariteit Eiendomme ontwikkel.

Hermann het gesê die kampus word nie met staats- of bemagtigingsgeld opgerig nie. Dit word deur die gemeenskap gedoen en behoort daarom 100% aan die gemeenskap. Sol-Tech is aanvanklik met R10-skenings van Solidariteit-lede begin en meer as R50 miljoen se toerusting is al aangekoop. Net soveel is ook vir studiehulp bewillig. “Al die R10de maak uiteindelik miljoene en selfs miljarde wat oor die volgende vyf jaar gebruik gaan word om Akademia te bou.”

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het gesê Sol-Tech is 12 jaar gelede as ’n klein brose boompie in ongunstige toestande geplant. “Baie was van mening dat die kollege nie lewensvatbaar is nie. Ons het egter besef selfdoen en selfbou is die enigste oplossing. Die boompie het te groot vir die pot geword en moet nou in die aarde geplant word.”

Volgens Van Deventer het Sol-Tech meer as 1 200 studente wat wêreldklasopleiding kry. Al die kollege se studente word nadat hulle afgestudeer het, suksesvol geplaas. 94,7% van studente het werk, 20,2% werk vir hulself en 37,2% is in diens van maatskappye. Altesame 76,7% kry binne ses maande nadat hulle gekwalifiseer het werk.

Die nuwe kampus gaan iets uitsonderlik wees met baie simboliek daarin vervat. Dit gaan ’n tuiste vir personeel, studente en die gemeenskap wees. Die historiese erfenis van die Afrikaner sal ook daarin geïnkorporeer wees. Geskiedkundige gebeure en die rol wat ambagslui in die ontwikkeling van die land gespeel het, sal ook uitgebeeld word.

Die nuwe Sol-Tech sal ook meer ambagte en rigtings wat nie net tegnies is nie, aanbied.

Henk Schalekamp, wat aan die hoof van Kanton staan, sê die eiendomsbeleggingsmaatskappy het twee hoofdoelwitte, naamlik om leefruimtes vir Afrikaans te skep en ’n vennootskap tussen kapitaal en kultuur te smee.

Ná die Sol-Tech kampus, sal koshuise en die bou van ’n nuwe Akademia-kampus aan die beurt kom. “As beleggingsmaatskappy in eiendom moet dit wat ons doen vir beleggers aantreklik wees en ’n opbrengs lewer.”

Hermann sê die bou van ’n nuwe kampus, stuur ook ’n harde en duidelike boodskap uit dat Afrikaners hier is om te bly en te bou.

Foto’s: Reint Dykema

Soortgelyke plasings