|

EERSTE VOLTYDSE STUDENTE OP NUUT-INGERIGTE AKADEMIA-KAMPUS VERWELKOM

Deur Zydelia Venter en Elzet Bester

Vanjaar skop Akademia se voltydse studie-aanbod op die Centurion-kampus af, en is hierdie pionierstudente op ʼn unieke wyse verwelkom met ʼn kampusdeurry wat op Saterdag 6 Maart plaasgevind het. Akademia wou graag studente en hulle ouers in persoon ontmoet, maar weens COVID-19-regulasies moes die instelling aanpasbaar wees en op ʼn unieke wyse ʼn eksklusiewe amptelike verwelkomingsfunksie hou: ʼn deurry-groet-en-ontmoet waar ʼn beperkte aantal motors op ʼn slag toegelaat is.

Die doel van die kampusdeurry was om vir die studente te wys hoe die kampus lyk en hoe dit gaan voel om hulle klasdrafskoene aan te trek. Weens inperkingsmaatreëls het talle van hierdie studente eers tydens die deurry vir die eerste keer die nuut-ingerigte kampus gesien. Komplimente het ingestroom van hoe netjies en ruim die perseel is en dat hulle nie kan wag om uiteindelik hier klas te draf nie.

Hierdie geleentheid was ʼn reusesukses en het daar baie energie en opgewondenheid op kampus geheers. Ouers het studente by die hek afgelaai en ʼn koffie geniet, waarna die nodige sifting van die studente vir COVID-19 gedoen is. Studente het dan op ʼn klasdraf-ervaring vertoef ­– ʼn toer op kampus, begelei deur ʼn studenteraad of ʼn senior – waar hulle by verskillende stopstasies, insluitende die klaslokale, biblioteek, kafeteria en ouditorium verby gegaan het om hulle verwelkomingsakke met bederf-items vol te pak. ʼn Belangrike deel van die program was die aflê van ʼn erekode in die verteenwoordigheid van die studentesakebestuurder, waar studente onderneem het om trotse ambassadeurs van Akademia te wees, medestudente te eerbiedig en by te dra tot die bou van die kampus.

Studente het gebaat by die toere wat in kwalifikasieverband afgelê moes word. Hulle het ook reeds tydens hierdie kampusdeurry waardevolle netwerke gebou en medestudente in hulle studierigtings ontmoet. Jumari Berry, ʼn eerstejaar in BCom (Ondernemingsbestuur) op die Centurion-kampus, noem dat sy die deurrygeleentheid baie geniet het en dat sy dankbaar was om reeds studente te ontmoet wat dieselfde studierigting as sy gaan studeer.

Nog ʼn eerstejaar, Anouska Fouché, wat studies in BCom (Ekonomie en Regte) by Akademia afskop, meen dat sy dit geniet het om uiteindelik eerstehands die kampus te kon ervaar. “Ek was nog nie by die kampus gewees nie; ek hou baie van hoe dit lyk. Ek het ook besef hoe vriendelik die Akademia-personeel is. Hulle het ons met ope arms verwelkom en ons beslis tuis laat voel.”

Alle voorspoed aan die eerstejaars met hulle nuwe hoofstuk by Akademia. Hier gaan geskiedenis gemaak en tradisies gevestig word as eerste voltydse kampusstudente van Akademia. Jou loopbaanreis begin hier!

Soortgelyke plasings