|

Eerste wenner van AfriVriendelik-entrepreneurskompetisie woeker met sy talente

Hy is onbeskryflik opgewonde oor wat die toekoms inhou.

Só sê Louis Loubser, die wenner van die eerste AfriVriendelik-entrepreneurskompetisie, wat vanjaar aangebied is. “Die wen beteken ongelooflik baie vir my, want my wen is ’n wen vir die boere. Die gevoel is ’n kombinasie van hoe ek gevoel het die dag toe ek my eerste Tree Hog verkoop het en my vrou ontmoet het.”

Loubser, ’n boer van Robertson, is die eienaar en stigter van Tree Hog, ’n innoverende waterbesparing- en besproeiingstelsel. “Ons sit op die oomblik met talle uitdagings weens die droogte. Alle korttermynoplossings is nou van die tafel af. Ons moet langtermynoplossings soek en dit is wat my produk bied.”

Loubser sê hy het nie verwag om te wen nie. “Ek het sterk kompetisie gehad en wens elke besigheid wat ingeskryf het baie sterkte en geluk toe met hul onderneming. Dit is nie maklik om iets van die grond af te begin nie.”

Loubser se harde werk werp ook vrugte oorsee af met internasionale belangstelling wat hy gekry het danksy die unieke aard van sy produk. Met dié produk kan tot 62% water en elektrisiteit bespaar word, terwyl onkruidbestryding ook vergemaklik word.

“Ek het nie deelgeneem net vir die pryse nie, maar omdat ek glo ek meer boere kan bereik deur bewusmaking van my produk. Hierdie toekenning het my daardie ekstra hupstoot gegee in my besigheid. En natuurlik ook meer selfvertroue.”

Sy advies aan ander entrepreneurs is om nie kort paaie te neem nie. “Ons land het baie geleenthede, steek jou nek uit, doen jou huiswerk en moenie oorhaastige besluite neem nie,” sê Loubser.

AfriVriendelik, ’n AfriForum-inisiatief wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder, het vanjaar dié opwindende entrepreneurskompetisie aangebied wat ten doel het om entrepreneurs, wat in Afrikaans sake doen, se onderneming ’n hupstoot en wye blootstelling te gee.

Lede van die publiek het tussen 2 en 15 Oktober vir hul toptien gunstelingondernemings gestem en ʼn paneel van beoordelaars het die wenner op 1 November 2017 aangewys.

AfriVriendelik het ook onlangs opleiding vir kleinsake-entrepreneurs in Pretoria aangebied, waartydens onderwerpe soos sosiale- en digitale media, kleinsake-geldsake, bemarking en die versterking van die handelsmerk (branding) bespreek was.

Besoek www.afrivriendelik.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings