EFF en Malema moet AfriForum nóg R109 000 betaal om batebeslaglegging te keer


AfriForum het die EFF en Julius Malema op terme geplaas om voor eerskomende Vrydag ’n verdere bedrag van R109 098,30 vir ’n uitstaande kostebevel aan dié organisasie te betaal. Indien die geld nie teen dan betaal is nie, sal AfriForum weer ’n proses begin om op die EFF se bates beslag te lê. Dié geld hou verband met die kostebevel wat AfriForum op 14 November 2018 teen die EFF en Malema bekom het nadat die EFF en Malema se poging om ’n dringende hofbevel te bekom – om te verhoed dat AfriForum die EFF se eiendom verwyder en op ’n veiling verkoop – misluk het. Dié regsrekening is reeds getakseer en daarom kan AfriForum die betaling daarvan nou afdwing.

Die kostebevel wat AfriForum op 18 November 2018 bekom het, is een van vyf kostebevele wat dié organisasie reeds teen Malema en die EFF bekom het. Van die vyf kostebevele het Malema en die EFF reeds twee betaal, wat ’n bedrag van R235 000 beloop. Met die betaling van die derde afdwingbare kostebevel sal daar nog twee uitstaande kostebevele wees. Die afdwinging van laasgenoemde word teruggehou omdat een nog getakseer moet word en die EFF appèl teen die ander een aangeteken het. Na raming sal die gesamentlike bedrag van die vyf kostebevele sowat R550 000 beloop.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan Malema en die EFF se betalings aan AfriForum aanwend om pogings om die land se Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, in die howe te beveg.

“Ons gaan Malema en die EFF met hul eie geld beveg,” sê Kriel.

Die betrokke vyf kostebevele spruit voort uit ’n hofgeding sedert Maart 2017, toe AfriForum ’n interdik teen Malema en die EFF bekom het wat hulle verbied om mense aan te hits om grond onwettig te beset of betree. Die Noord-Gautengse hoë hof het in AfriForum se guns beslis en die interdik met koste toegestaan. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes dié saak egter uitstel nadat Malema en die EFF se betoogshoofde in hul eie saak laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Met die hervatting van dié saak op 18 Februarie 2018 het Malema en die EFF se regsverteen­woordigers nie opgedaag nie en is die saak in AfriForum se guns beslis met die afwysing van die tersydestellingsaansoek, en ’n verdere kostebevel is teen Malema en die EFF uitgereik.
Die ander twee kostebevele is albei op 14 November 2018 in twee afsonderlike sake teen Malema en die EFF in die Noord-Gautengse hoë hof in AfriForum se guns uitgereik. Die eerste bevel hou verband met ’n saak van minagting van die hof, wat AfriForum teen Malema en die EFF aanhangig gemaak het. Dít volg nadat Malema en die EFF voortgegaan het om grondgrype aan te moedig, ondanks ’n staande interdik wat AfriForum bekom het om hulle te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Die EFF en Malema se regspan het nie betyds hul betoogshoofde ingedien nie, wat beteken dat die saak later aangehoor sal moet word. Daarmee het die EFF en Malema hulself nóg ’n kostebevel op die hals gehaal.
In die ander saak het die EFF en Malema probeer om ’n dringende hofbevel te bekom wat verhoed dat AfriForum die EFF se eiendom verwyder en op ’n veiling verkoop om regskostes te verhaal. Die hof het beslis dat die EFF en Malema se saak nie dringend was nie en het gevolglik ’n vyfde kostebevel teen Malema en die EFF gegee.

Soortgelyke plasings