|

Eise vir gratis onderrig onrealisties – AfriForum Jeug

Die burgerregte-organisasie AfriForum se jeugvleuel meen versoeke deur groepe soos Students for Law and Social Justice (SLSJ) dat ryk studente arm studente se studies moet subsidieer is verregaande.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug koördineerder, is dit onrealisties om van belastingbetalers te verwag om nog verder tot ander mense se universiteitsgelde by te dra nadat universiteite in 2014/15 reeds sowat R28 miljard subsidie van die staat ontvang het.

AfriForum Jeug meen die regering moet hand in eie boesem steek en eerder fokus op die behoorlike bestuur van hulpbronne wat vir studentehulp en studies aangewend kan word.

Volgens Grobbelaar is ʼn voorbeeld hiervan die aanwending van fondse uit die nasionale studentefinansieringshulpskema (Nsfas). Dié fonds het in 2015/16 sowat R14 miljard beloop.

Grobbelaar sê daar is gereeld mediaberigte oor wanaanwending en korrupsie rondom Nsfas.

“Die regering het ’n verpligting om dringend hier in te gryp. Die minister het self erken dat dié fonds in 2017 met ’n bykomende R20 miljard sterk kon wees indien begunstigdes hul skuld aan lenings terugbetaal het.”

Grobbelaar het voorts gesê ’n verdere R459 miljoen sou vanjaar vir studiehulp aan behoeftige studente beskikbaar kon wees as studente nie soveel skade tydens protesoptogte op kampusse aangerig het nie.

Hy het verwys na dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, se uitsprake in die verlede dat gratis onderwys wel moontlik is.

“Die ondeurdagte uitsprake het bygedra tot wanpersepsies onder studente dat onderrig wel gratis kan wees en het daartoe gelei dat instellings in die spervuur is om aan dié eise te voldoen.”

Grobbelaar meen instellings moet hul regmaak vir verdere probleme in die lig van die voorspelling dat klasgelde vanjaar met tot 8% sal verhoog.

Hy het voorts gesê dit is onaanvaarbaar om van onder meer Afrikaanse studente te verwag om ander te subsidieer terwyl universiteite reeds begin het om hul grondwetlike reg tot moedertaalonderrig te ondermyn.

Volgens dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), is die versoeke van SLSJ nie haalbaar nie.

Hy het aan Forum Nuus gesê dat dié insette nie ʼn morele of regverdige wyse is om armer studente te subsidieer nie.

“Sogenoemde ‘ryk studente’ se ouers betaal reeds meer belasting as armer studente se ouers, dus maak hulle reeds ʼn groter bydrae om armer studente te subsidieer.”

Volgens Eloff moet die regering ook eerder poog om Nsfas-fooie beter te bestuur.

“Die Nsfas se terugbetalingsproses is onfeilbaar indien dit reg gevolg word, omdat studente hul studieskuld as inkomstebelasting terugbetaal sodra hulle begin werk. Dit is daarom juis kommerwekkend dat só baie geld steeds aan die fonds geskuld word.”

Hy sê voorts dat die regering gevaarlike beloftes gemaak het rakende gratis tersiêre onderrig tydens verlede jaar se Feesmustfall-optogte.

“Ek wonder of universiteite die politieke wil sal hê om ʼn tweede Feestmustfall suksesvol teen te staan indien hulle nie die beloftes kan nakom nie.”

Volgens Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient Groep, het korrupsie en staatsvergrype ʼn groot impak op die krisis wat ontstaan het rondom studiegelde.

Hy is van mening dat die SLSJ se versoeke net ʼn oproep is dat ryker studente se ouers nog méér moet betaal as wat hulle reeds doen. Hy het gesê die departement van hoër onderwys moet eers hul eie strukture en fondse, wat reeds in plek is, reg begin bestuur voordat enige alternatiewe befondsingsmetodes ondersoek kan word.

“Die grootste gedeelte van die land se begroting word aan onderwys bestee, maar dit toon die heel swakste uitkomste. Die staatsdiens het in duie gestort weens sy eie onvermoë om geld te bestuur,” het Roodt gesê.

Soortgelyke plasings