Ekurhuleni-metro vervang Markville-hysbak ná volgehoue druk deur AfriForum

 

Volgehoue druk deur die AfriForum-tak in Springs het daartoe gelei dat die hysbak by die Markville-woonstelle in dié dorp tans deur die Ekurhuleni-metro vervang word. Hierdie hysbak was vir langer as drie jaar buite werking. Die woonstelle word deur die stadsraad bestuur en die plaaslike AfriForum-tak het sedert 2015 reeds verskeie klagtes rakende hierdie kwessie by die metro ingedien en talle vergaderings hieroor met die munisipale bestuur gehad.
Hoewel daar begroot is vir die vervanging van die hysbak het die munisipaliteit voortdurend die proses laat sloer weens probleme met die aanstelling van ’n bevoegde kontrakteur.

“Kobuhla Engineering Building Solutions is vanjaar as kontrakteur aangestel en is tans besig om die hysbak te vervang. Die projek behoort binne die volgende vier weke afgehandel te wees, waarna die hysbak weer ten volle funksionerend sal wees en die inwoners daarvan gebruik sal kan maak. Ons sal egter voortdurend die proses moniteer om te verseker dat die hysbak nie net vervang is nie, maar ook steeds werkend is oor ses maande van nou af,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.
“Ons is bly dat die saak uiteindelik aandag gekry het, maar daar is verskeie ander munisipale woonstelle aan die Oos-Rand wat met dieselfde probleem sit en nog geen uitkoms in sig het nie. AfriForum se ander Oos-Rand-takke sal voortdurend druk op die onderskeie munisipaliteite moet plaas om te probeer verseker dat die hysbakke vervang en behoorlik onderhou word sonder dat dit ’n verdere drie jaar neem om tot ’n punt te kom,” voeg Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, by.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Springs” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings