|

ELKE BOER EN SY GESIN MOET ’N PLAN TEEN PLAASAANVALLE HÊ

Deur Alet Rademeyer

Terwyl misdaad in die algemeen verlede jaar tydens die COVID-19-pandemie afgeneem het, was daar egter steeds ’n toename in wrede plaasmoorde.

AfriForum het vandag sy jongste verslag oor plaasmoorde en –aanvalle vir 2020 bekendgestel.

Verlede jaar was daar 63 plaasmoorde teenoor die 45 in 2019. Daar was 382 aanvalle teenoor 511 in 2019. Die afname in aanvalle kan wel aan die staat van inperking toegeskryf word. Desnieteenstaande was die wreedheid en gewelddadigheid waarmee die aanvalle gepaard gegaan het, nie minder nie.

Een van die ergste moorde wat die land geruk het, is die van Brendin Horner,  ’n plaasbestuurder van die Bloukruin Boerdery in Paul Roux. Hy is deur vermeende veediewe vermoor. Hy is met ’n mes gesteek en het kop- en gesigbeserings gehad. Sy hande was stukkend geslaan soos wat hy homself teen sy aanvallers probeer verset het. Hulle het sy lyk aan ’n paal vasgemaak en ’n mes is op sy pet gekry.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê hoewel Bheki Cele, Minister van Polisie, kort ná die moord op Horner aangekondig het dat plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad is en selfs die gemeenskap van Senekal besoek het, gebeur daar steeds niks om ’n einde aan die aanvalle en moorde te bring nie. “Ons moenie om die bos gelei word nie. Die regering se uitsprake word nie in dade omgesit nie. En daarom moet gemeenskappe alles in hul vermoë doen om hulself te beveilig.”

Volgens Andrea Muller, ’n navorser by AfriForum, is dit belangrik om in ag te neem dat die jongste syfers vir plaasmoorde en -aanvalle nie noodwendig ’n presiese weergawe van al die gevalle is nie, omdat die media en ander netwerke nie noodwendig oor elke geval verslag doen nie. Vir die doel van die navorsing is verskeie inligtingsbronne geraadpleeg.

Luidens AfriForum se verslag het die meeste aanvalle verlede jaar in Junie, Julie en Augustus plaasgevind. Die meeste moorde is in KwaZulu-Natal (15), Gauteng (14) en die Vrystaat (9) gepleeg. Die ouderdom van 24% van die slagoffers was tussen 60 en 69 jaar.

Die studie het bevind in minstens 20% van die aanvalle en moorde het een of ander vorm van marteling plaasgevind. Dit sluit in die brand van slagoffers met kookwater of ander toebehore en messteke.

AfriForum het ook vandag sy strategie bekendgestel om plaasaanvalle te bekamp en die nuwe Beveilig ’n Plaas-veldtog van stapel gestuur. Kyk die video hier.

Dié veldtog het ten doel om boere van die nodige opleiding te voorsien om hul veiligheid in eie hande te neem. “Hoewel boere al meer paraat word, is dit AfriForum se doel om hulle en hul gesinne méér weerbaar teen plaasaanvalle te maak. AfriForum sal aanhou om projekte, aksies en veldtogte aan te pak om die veiligheid van ons boere te verbeter en hulle te ondersteun waar ons kan,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder.

Die opleiding sluit in die veiligheidsassessering van plaaswonings;  opleiding in basiese noodhulp; wapenopleiding en die verskaffing van ’n analoog-radiostelsel insluitende radio-opleiding.

Kamfer het beklemtoon dat boere moet groepeer deur beter kommunikasiemiddele soos radio’s te gebruik. Deur dit te doen, kan hulle beter na mekaar se veiligheid omsien. Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is om deel van strukture soos buurt- en plaaswagte te wees.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, ’n netwerk vir familieboere, sê naas onteiening sonder vergoeding, word die kwessie van plaasmoorde plaaslik en internasionaal die meeste bespreek.

“Daar is kommer oor die toename in moorde en die feit dat dit nie die nodige aandag van die regering kry nie. Die enigste uitweg wat ’n boer het wanneer hy aangeval word, is om terug te skiet om homself te verdedig.”

De Jager het hom ook uitgespreek oor die pleidooi van boere wat tydens die inperking op dooie ore geval het toe hulle patrollies moes kon ry. “Dit kon anders gehanteer geword het en lewens kon dalk gered word.”

Hy het ook na die regering gekap oor die toepassing van wetgewing rondom vuurwapenamnestie en die hernuwing van vuurwapenlisensies.  “Dit word swak hanteer en kom daarop neer dat boere ontwapen word. Niemand verstaan die logika daaragter nie.”

Soortgelyke plasings