Ellisras se drinkwater verdag


Wetenskaplike toetse toon dat Ellisras se drinkwater nie skoon en veilig vir menslike gebruik is nie. Dié toetse vorm deel van AfriForum se blou-en-groendruppelprojek om te verseker dat dorpe se drinkwater skoon en veilig is.
Afriforum se Ellisras-tak het SANAS-geakkrediteerde watertoetse op die dorp se drinkwater uitgevoer omdat aanwysers getoon het dat dit besoedel is. ’n Kraanwatermonster is by Laerskool Bosveld geneem.

“Hoewel daar geen E.coli of fekale koliforme in die water voorgekom het nie, hou dit steeds ’n risiko vir inwoners in. Die kleurwaarde van die water is 46 platinum-kobalt (Pt-Co), wat die limiet van 15 Pt-Co oorskry. Verder toon die getoetste water ’n troebelheidswaarde van 6 nefelometriese turbiditeitseenhede (NTU), wat die limiet van 5 NTU oorskry. Dit beteken dat daar fyn sediment in die water voorkom wat die kleur daarvan verander en skadelike chemiese samestellings kan bevat,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Op grond van die eerste uitslae het AfriForum dadelik ’n brief aan die Lephalale Munisipaliteit gestuur om hulle in kennis te stel dat die dorp se drinkwater vuil mag wees. Die munisipaliteit het aan AfriForum bevestig dat daar probleme met die watersuiweringstelsel is en dat hulle daaraan werk. AfriForum het die munisipaliteit vir ’n tweede maal van die probleem in kennis gestel nadat die opvolgtoetsresultate ontvang is en geëis dat hulle dringend aandag aan die probleem gee.
Grobbelaar het ook bygevoeg dat inwoners van Ellisras versigtig moet wees om kraanwater te drink en eers na die kleur daarvan moet kyk.

“Ons plaaslike AfriForum-tak het weer ondersoek ingestel en bevind dat die kraanwater op sekere plekke bruin is,” sluit Grobbelaar af.

Die gemeenskap kan AfriForum nader vir ’n toestel wat die drinkwater doeltreffend vir menslike gebruik suiwer tot tyd en wyl die munisipaliteit die probleem oplos.

Soortgelyke plasings