|

AfriForum se Oudtshoorn-tak spreek kommer uit oor politieke chaos in dorp

AfriForum se Oudtshoorn-tak het op Maandagaand, 4 Oktober 2021, ’n vergadering gehou waar die afgesette burgemeester van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Chris Macpherson self aan verskeie belangegroepe die chaos wat tans in die raad heers, met die vyandige oorname daarvan, kon verduidelik. Die vergadering is deur ongeveer 40 mense bygewoon wat verskeie belangegroepe in die gemeenskap verteenwoordig, insluitend georganiseerde landbou, die sakekamer en prominente figure en sakeleiers uit die gemeenskap.

Uit Macpherson se verduideliking was dit duidelik dat die oorname en swaai van die magsbalans binne die raad net ten doel het om toegang tot die gemeenskap se geldkas te kry.

“Ons by AfriForum is stomgeslaan oor die situasie wat tans afspeel in die raadsaal, dit is ook kommerwekkend dat die Wes-Kaapse regering nie iets doen om hierdie situasie aan te spreek nie. Dit is dan die provinsiale regering se mandaat om die gemeenskap teen hierdie tipe dinge te beskerm. Ons eis daarom vinnig en daadwerklike optrede om hierdie tipe situasie in die toekoms ook te vermy,” sê Johan Conradie, AfriForum se Oudtshoorn-takvoorsitter.

“AfriForum wil ook die gemeenskap van Oudtshoorn aanmoedig om in groot getalle by die stembusse op te daag om hul kruisies te trek. Dit is jou voorreg om te besluit vir wie jy gaan stem maar onthou jy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor jou gemeenskap om vir die persoon te stem wat in hulle belang gaan optree,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap.

Om by AfriForum se Oudtshoorn-tak betrokke te raak SMS “Oudtshoorn” na 45350.

Similar Posts