NVG maak ommekeer oor moordsaak nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingryp

 

 

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het sy aanvanklike besluit om nie die beskuldigde in ’n moordsaak te vervolg nie, omgekeer nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid die klaer in dié saak bygestaan het.

 

Die klaer in die saak se man is in Januarie vanjaar in Richardsbaai doodgeskiet en sy het self ook ’n skietwond aan haar hand opgedoen.

 

Die klaer en haar man het op 26 Januarie ’n oproer in die buurt opgemerk en ondersoek gaan instel. Die beskuldigde het ’n skoot afgevuur wat tot die klaer se man se dood gelei het. Dieselfde koeël het die klaer in haar hand getref. Die vermeende moordenaar het in dieselfde buurt as die slagoffers gewoon.

 

Die oorledene se familie het weens die voorval besluit om na die VSA te emigreer. Die polisie het die misdaad ondersoek, maar die NVG het aanvanklik versuim om te vervolg. Dít ondanks die feit dat die polisieondersoek bevind het dat die koeël en gebruikte patroon wat op die toneel gevind is deur ’n vuurwapen afgevuur is wat in die beskuldigde se naam geregistreer is.

 

AfriForum het die klaer bygestaan deur ’n aansoek te bring vir ’n nolle prosequi-sertifikaat, waarna die NVG sy besluit omgekeer het om nie te vervolg nie.

 

“Die NVG se aanvanklike besluit om nie te vervolg nie is irrasioneel en onregverdig. Dit het daarom uiters belangrik geword dat daar ’n teenwig, soos die privaatvervolgingseenheid, is om te verseker dat geregtigheid geskied en wat bereid is om klaers by te staan wanneer die NVG weier om te vervolg in sake wat meriete het,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Similar Posts