|

ENIGSTE TEENVOETER VIR PLAASMOORDE IS GEMEENSKAPSBETROKKENHEID EN SELFBEVEILIGING

Deur Alet Rademeyer

Die stryd teen plaasmoorde en –aanvalle kan net gewen word deur groter gemeenskapsbetrokkenheid by veiligheidstrukture en verskerpte veiligheidsmaatreëls.

Dit is die raad en oplossings wat kundiges vandag tydens ’n webinaar van AfriForum vir dié krisis voorgehou het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, en Jan Wessels, operasionele bestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan die gesprek deelgeneem.

Buys het op die goue driehoek vir veiligheid gewys en beklemtoon dat dit net kan gebeur indien daar soomlose samewerking tussen die polisie, privaat veiligheidsmaatskappye en gemeenskappe is.

“Daar is verskeie redes vir die onveilige situasie waarin boere hulself bevind naamlik die verswakking van die polisie, die afskaffing van kommando’s en ’n politieke klimaat van kriminalisering van boere wat geskep word.

“Ons moet aanvaar dat die regering nie vir boere of hul veiligheid omgee nie. Boere is op hul eie en daarom moet hulle en hul gemeenskappe meer selfverantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. ’n Krygskultuur moet weer geskep word waar weerbaarheid die oplossing teen weerloosheid is. Dit is moontlik wanneer mense hul op ’n wettige manier bewapen,  veiligheidsbewus is en hulself oplei om hulself teen boosdoeners te beskerm. Afskrikking is die beste manier om jouself te beveilig,” meen Buys.

De Jager sê plaasmoorde is ’n kanker tot in die beenmurg. “Gesprekke daaroor plak net pleisters. Die probleem lê op makrovlak met die regering wat ’n toksiese omgewing vir boere skep. Die ANC self is skuldig daaraan dat hulle vir lank Kill The Boer, Kill the Farmer geskreeu het en nou kan hulle nie die EFF beteuel of die party se ondersteuners daarvan laat afsien nie.

“Die regering is aandadig aan die krisis en daarom is dit so belangrik dat die kwessie internasionaal op die tafel geplaas word en steun teen die regering gemonster word. Die wêreld moet weet daar is geen verskil tussen apartheid wat as misdaad bestempel word en die misdaad wat die nuwe bedeling nou teen die mensdom pleeg nie,” sê De Jager.

Volgens De Jager sal plaasmoorde as misdaad getakel kan word indien die polisie ook kleiner misdade soos diefstal en betreding aanspreek. Die feit dat niks aan kleiner misdade gedoen word nie, verhoog spanning en die moontlikheid vir aanvalle.

Roets het daarop gewys dat die grense tussen terreur en misdaad begin vervaag het. Die wreedheid en brutaliteit waarmee plaasmoorde en –aanvalle gepaardgaan en die feit dat daar dikwels nie veel tydens die aanvalle gesteel word nie, dui sonder twyfel op terreur. Terreur boesem vrees by mense in en die doel daarmee is om ’n bepaalde boodskap uit te stuur.”

Hy meen daar is goeie vordering die afgelope jaar gemaak om die internasionale gemeenskap oor die plaasmoordkrisis in te lig. “Ons het nie meer nodig om die krisis te verduidelik nie. Invloedryke meningsvormers in die buiteland weet wat aangaan en ons moet ons boodskap bly uitdra sodat hulle druk op die regering kan plaas.”

Roets meen egter mense het ook self ’n verantwoordelikheid om beter na hul eie veiligheid om te sien. “Ons moet meer pro-aktief as reaktief wees. Mense moenie wag dat iemand eers naby aan hulle of in hul gemeenskap vermoor word, voordat hulle die nodige strukture en maatreëls in plek kry om hulself te beveilig nie.”

Wessels beaam dit en sê dit is juis waarom AfriForum soveel klem op buurt- en plaaswagte plaas. “Ons het ’n behoorlike veiligheidsnetwerk regoor die land nodig. Die 160 buurt- en plaaswagte fokus juis daarop. Om dié strukture te bemagtig, word opleiding gegee in die gebruik van radionetwerke, noodhulp en die uitvoer van patrollies en gebeurlikheidsplanne. Hulle word ook van toerusting soos lyfpantsers en glimbaadjies voorsien. Voorts staan AfriForum se trauma-eenheid slagoffers by en meer vrywilligers word ook nou opgelei om trauma-berading te kan doen.”

Wessels het daarop gewys dat daar sedert die begin van die jaar reeds 332 plaasaanvalle en 47 plaasmoorde was. Die jongste voorval was gisteraand in die Odendaalsrus-omgewing in die Vrystaat waar Mark Regal op sy plaas, Thelma, doodgeskiet is.

Daar was die afgelope ses weke ses moorde in die noordelike dele van die Vrystaat. Verlede week is Pieter Hills (56) vermoor. Sy seun Eddie (26) is vandeesweek in ’n Johannesburgse hospitaal aan sy beserings dood.

“Die ANC-regering moet sy rug draai op sy kultuurhistoriese erfenis en ophou om ’n klimaat teen die land se boere te skep en daadwerklik begin om iets aan die krisis te doen,” sê De Jager.

Foto’s: Marthinus Koekemoer en Reint Dykema.

Soortgelyke plasings