|

Entrepreneurs moet groter prentjie sien te midde van Koronavirus-krisis

Suid-Afrikaanse ekonome waarsku dat die ekonomiese gevolge van die Koronavirus erger kan wees as die impak wat dit op burgers se gesondheid het.

Hoewel die drastiese stappe om die Korona-pandemie te stuit ’n vernietigende uitwerking op veral kleinsakeondernemings kan hê, meen party entrepreneurs dat dit juis nóú die geleentheid is om kreatief te wees en tegnologie en sosiale media optimaal te benut.

Magies vol Liefde en klerekas.com, albei gelys op die AfriForum Netwerk, is twee sulke besighede wat danksy hul sosialemediaplatforms en sakemetodes steeds floreer in hierdie krisistyd.

“Ons as plaaslike entrepreneurs is geneig om vas te kyk in kompetisie of in tye soos nou te fokus op eksterne krisisse. Ons moet egter die groter prentjie begin raaksien. Leer by globale besighede en pas aan om nuwe geleenthede te skep,” sê Johan Jansen van Vuuren, mede-eienaar en stigter van klerekas.com. Dit is ’n aanlyn eenstopwinkel wat plaaslike klere, juwele en bykomstighede vir mans en dames verkoop.

Jansen van Vuuren meen ’n mens moet kyk hoe groot maatskappye hul kommunikasieprosesse aangepas het. Selfs kunstenaars het te midde van die krisis aangepas en stroom nou konserte aanlyn.

Volgens Jansen van Vuuren is nóú die perfekte tyd vir besighede om hul aanlyndienste uit te brei. “Baie Suid-Afrikaners is skrikkerig vir aanlyn-inkopies, maar nou is dit die veiliger alternatief en beste tyd om dit op die proef te stel. As mense sien hoe maklik en gerieflik dit is, het jy ’n nuwe kliënt selfs wanneer dié pandemie-tydperk verby is.”

Sy advies aan ander entrepreneurs is om hulself in hul kliënt se skoene te plaas, veral in tye soos dié waar sosiale distansiëring aangemoedig word.

“Lewer steeds die beste moontlike produk en diens en besef watter potensiaal daar is om jou besigheid nie net te laat voorbestaan nie, maar ook te laat groei. Dink aan wat die beste en maklikste manier sal wees om nie net vir jou kliënt ’n goeie produk te gee nie, maar ook om dit op ’n veilige, gerieflike en higiëniese manier by hulle te kry.”

Marita Bezuidenhout, die mamma agter die gesonde babakosreeks, Magies Vol Liefde, sê ook dat haar onderneming steeds suksesvol is, ongeag die uitdagings wat met die virus gepaard gaan. “Die voordeel van ons model is dat daar minimale kontak is omdat die produkte aanlyn bestel en afgelewer word. Ons is ’n baie klein span en ons bestel ook ons bestanddele aanlyn om kontak te beperk.”

Volgens Bezuidenhout is haar personeel van vyf nog altyd ingestel op ’n skoon werksomgewing. Te midde van die Koronavirus het hulle hul produksieproses, wat reeds higiënies goedgekeur is, verder opgeskerp om te verseker dat hulle produkte van die beste en veiligste gehalte is.

“Ons bestellings het beslis toegeneem omdat mammas nou by die huis is en steeds op ’n gerieflike wyse vir hul babas gesonde kos wil gee. Mense bestel in grootmaat omdat hulle winkels sover moontlik wil vermy en ons model skep daardie geleentheid.”

Hoewel haar onderneming steeds goed doen, is sy egter soos enige ander entrepreneur bekommerd oor die onsekerheid wat die Korona-pandemie inhou. “Ek bekommer my tog oor my personeel. Dit is vir my uiters belangrik om goed na hulle om te sien en steeds hulle salarisse te betaal. Hulle is die hart en siel van my besigheid en ook almal ma’s. Ons moet mekaar nou bystaan.”

Haar raad aan ander entrepreneurs is om die Korona-krisis dag vir dag te hanteer. Pas jou prosesse en hoe jy sake doen aan in dié tyd van onsekerheid. “Dit is ook belangrik om nie angs onder jou personeel en kliënte te versprei nie. Hê ’n oop en eerlike verhouding met almal en probeer om voor te berei en nuwe strategieë uit te dink om steeds optimaal sake te doen.”

Magriet Groenewald, ’n konsultant wat besighede help om hul aanlynbemarkingstrategie te ontwikkel en implementeer en Warrik Kernes, SA se voorste aanlynwinkelspesialis, gaan in samewerking met AfriVriendelik op 25 Maart 2020 ’n aanlyn webinaar aanbied. Groenewald gaan entrepreneurs wys hoe om hul besigheid en produkte aanlyn te bemark met behulp van bestaande sosiale media platforms en Kernes gaan ‘n bietjie meer vertel oor hoe om ‘n aanlynwinkel in Suid Afrika op te stel en te begin.

Besoek AfrVriendelik se Facebook-blad vir meer inligting.

Soortgelyke plasings