|

Erfenisstigting blaas nuwe lewe in Louis Tregardt-gedenktuin in Mosambiek

Die Louis Tregardt-gedenktuin lyk nou weer soos ’n splinternuwe monument danksy ’n span van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting wat dit met ’n onlangse besoek aan die Mosambiekse hoofstad, Maputo, opgeknap het.

Oudminister Jan de Klerk, die pa van wyle pres. F.W. de Klerk, het dié tuin in 1968 amptelik geopen.

’n Mosaïekbeeld van die Voortrekkerleier Tregardt (ook gespel Trichardt) is in die tuin aangebring, maar van die teëltjies het oor die jare losgekom of gebreek. So ook het die res van die gedenktuin oor die jare stelselmatig agteruitgegaan. Die opknappingspan het ingetree om verdere agteruitgang te verhoed en om die hele monument ordentlik skoon te maak.

Hierdie monument is ’n belangrike deel van ons geskiedenis.

AfriForumTV se program Byt en Buskruit, met die aanbieder en kunstenaar Adam Tas, het voor die besoek van die Erfenisstigting met een van hul episodes ook opknappingswerk by die gedenktuin gedoen. Tas het na afloop van die Erfenisstigting se besoek by die gedenktuin net lof gehad vir die werk wat hulle gedoen het.

“So min mense weet dat daar ’n monument opgerig is in een van ons buurlande vir die Voortrekkers. Dit wys jou die deursettingsvermoë wat mense soos Tregardt gehad het. Dit is ongelooflik om te sien dat organisasies soos die Erfenisstigting na die afgeleë terreine omsien. Hulle het ongelooflike werk gedoen om die monument op te knap,” sê Tas.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê ook die Erfenisstigting doen ongelooflike belangrike werk. “AfriForum is baie dankbaar teenoor die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting vir die noodsaaklike werk wat hulle doen om ons Afrikaner-erfenisse plaaslik en selfs in Mosambiek vir ons en ons nageslag in stand te hou en te bewaar. Dit is ook vir AfriForum ’n besonderse voorreg om as deel van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting se direksie te kan meedoen aan die groot werk wat tans by die Voortrekkermonument en vele ander erfenisterreine soos die Tregardt-gedenktuin in Mosambiek gedoen word,” sê Kriel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en sy kinders Emri, Jana en CM het die gedenktuin verlede jaar besoek.

In ’n onbaatsugtige gebaar het die plaaslike sakeman in Mosambiek Chris de Jager gesê hulle sal voortaan help om die gedenktuin in stand te hou en om die sekuriteit op te skerp. Jaco Cilliers, hoof van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting, het sy dank uitgespreek teenoor De Jager en die werk wat gedoen word om die gedenktuin op te pas.

“As dit nie vir die hulp van mense soos Chris was nie, sou dit nie moontlik gewees het om die gedenktuin so goed in stand te hou nie, en daarvoor kan ons nie genoeg dankie sê nie. Hierdie monument is ’n belangrike deel van ons geskiedenis. Dit dui nie net die roete van Tregardt aan nie, maar dien ook as bewys dat die Voortrekkers positiewe verhoudings buite die grense van Suid-Afrika gehandhaaf het. Dit was ’n ongelooflike voorreg en ’n persoonlike hoogtepunt om aan die herstel van die monument te kon deelneem,” sê Cilliers.

Daar is 20 lede van Tregardt se trekgeselskap, insluitend hyself en sy vrou, in 1838 in Lourenço Marques (Maputo) oorlede. Die monument het wonderbaarlik die Mosambiekse burgeroorlog oorleef en ná Fremilo aan bewind gekom het, het pres. Samora Machel opdrag gegee dat die monument bewaar moet word. Wyle Pik Botha, die Minister van Buitelandse Sake, het in 1993 ’n kranslegging by die gedenktuin waargeneem.

Soortgelyke plasings