|

Erfenisstigting en FAK begin met opknapping van Ossewabrandwag Ereakker in Centurion

Die Erfenisstigting (ES) en Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hierdie week met ’n opknappingsprojek by die Ossewabrandwag Ereakker in die Centurion-begraafplaas begin. Dit is die eerste stap in die groter bewaringsbestuurplan wat opgestel is om dié terrein te bewaar en beskerm.

Die Ereakker is ’n gedenkterrein met 99 grafte van verskeie OB-leiers, insluitende dié van J.F. (Hans) van Rensburg, vanaf 1941 tot 1952 leier van die OB, en J.C. Neethling, nog ’n belangrike rolspeler in die OB en die Stormjaers (’n onderafdeling van die OB). Neethling was voorts die eerste eggenoot van die legendariese aktrise Anna Neethling-Pohl, wat self ook aktief betrokke was by die OB. Die ES het in 2012 eienaarskap geneem van dié terrein.

“Dit is nie net ons plig nie, maar ons roeping om te kyk na ons erfenisterreine. Daarom het die ES vanjaar besluit om die projek saam met die FAK en FAK Jeug aan te pak,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting.

Die projek is afgeskop met die verf van die betonvlamme wat op die grensmuur se pilare gemonteer is. Hierdie verfwerk speel ’n belangrike rol om die steen te beskerm. Dié langtermynprojek sal ook verskeie ander opknappings insluit.

“Ons moet onthou dat daar steeds nasate van die OB-manne is, wat hiér kom besoek aflê om hulde te bring aan hul geliefdes en om hul finale rusplek netjies te hou is ’n klein, dog belangrike, manier om hul nalatenskap te vier.”

Buiten die Ereakker is daar verskeie ander historiese bakens wat deur die ES bestuur word. Die sluit onder meer in die Danie Theron-gedenknaald naby Gatsrand, die Kroonstad- en Mafikeng-konsentrasiekampbegraafplase in onderskeidelik die Vrystaat en Noordwes, die Kaalvoetvroumonument, Kerkenberg en die Bloukransmonument in KwaZulu-Natal, die Karel Landman-monument in die Oos-Kaap en selfs die Louis Tregard-gedenkteken in Maputo. Die ES hanteer ook die bestuur van Boekenhoutfontein, een van die 27 plase in die Rustenburg-omgewing wat aan die destydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), Paul Kruger, behoort het.

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noordelike streek

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noordelike streek, sê dit is vir die FAK ’n eer om deel te wees van hierdie ES-projek omdat dit ook hul jongmense die geleentheid gee om terug te ploeg in die gemeenskap.

Die Centurion-begraafplaas is daagliks van 07:00 tot 17:00 oop.

Soortgelyke plasings