Ernst Roets voltooi doktorsgraad

Die Universiteit van Pretoria het bevestig dat die graad Legum Doctor (LL.D.) tydens dié universiteit se gradeplegtigheid in September aan Ernst Roets, hoof van Beleid en aksie by AfriForum toegeken sal word. Roets het sy doktorsgraad in regsfilosofie onder leiding van prof. Koos Malan by die Departement Publiekreg voltooi.

In sy proefskrif behandel Roets die betekenis van vryheid. Hy doen dit met verwysing na die werke van toonaangewende denkers wat geleef het in antieke tye, die Middeleeue, die Renaissance, die Verligting en die 19’de eeu. Historiese gebeure wat die manier hoe die wêreld oor vryheid dink beïnvloed het word ook in die proefskrif behandel.

Roets voer aan dat die wêreld vandag hoofsaaklik oor vryheid dink as ’n soort ongebondenheid, wat daarop neerkom dat mense kan doen wat hulle wil. Hy kom egter tot die gevolgtrekking dat hierdie vryheidsbeskouing nie volhoubaar is nie, omdat dit nie in die aard van die mens is om homself van sy gemeenskap, kultuur en tradisie los te maak nie. In teenstelling met ongebondenheid vereis vryheid juis dat mense hul verantwoordelikhede teenoor mekaar en hul gemeenskap nakom.

Roets het gesê dat die skryf van die proefskrif vir hom ’n verrykende intellektuele reis was en dat hy daarna uitsien om die kennis wat hy in die proses opgedoen het in sy werk by AfriForum toe te pas.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Roets namens AfriForum gelukgewens met sy doktorsgraad. “Dr. Roets lewer ’n reusebydra tot AfriForum se sukses en sy studie bied ’n stewige grondslag van waar AfriForum kan voortbou om ’n gemeenskapsgebonde samelewing te vestig waarin ons en ons nageslag blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef hier aan die suidpunt van Afrika.”

Die titel van Roets se proefskrif is: ’n Regsfilosofiese ontleding van die selfgesentreerde, teenoor die vervullende beskouing van vryheid.

Die gradeplegtigheid sal plaasvind op 8 September 2022.

Soortgelyke plasings