|

Eskom-krisis: AfriForum gaan voort om verbruikers te beskerm

In die lig van die voortslepende krisis rondom Eskom, wat sedert die begin van die jaar dreig om verskeie munisipaliteite se krag af te sny, maak AfriForum planne om die regte van verbruikers te beskerm.

Eskom het begin vandeesmaand gedreig om talle munisipaliteite in Noordwes, die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap en Mpumalanga se krag af te sny. Dié munisipaliteite skuld die kragvoorsiener meer as R10 miljard.

AfriForum het die hof genader in ’n poging om te keer dat duisende huishoudings, waarvan baie betaal, se krag afgesny word. Die Pretoriase hooggeregshof het egter beslis dat Eskom wel die reg het om skuld in te vorder en met die afsny van krag mag voortgaan.

In die lig van die verwikkelinge het AfriForum ’n regsfonds geskep om gemeenskappe by te staan wat hul onbevoegde munisipaliteite en amptenare in die howe tot verantwoording wil roep.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Eskom ook vandeesweek opdrag gegee om munisipaliteite tot die einde van die maand uitstel te gee om hul skuld te vereffen. Eskom het op sy beurt aangekondig dat ooreenkomste met van die munisipaliteite bereik is, maar die inhoud van die ooreenkomste is nie op ’n versoek van AfriForum bekendgemaak nie.

Dit het die burgerregte-organisasie genoop om dringend ’n Paia-aansoek te bring omdat belastingbetalers en kragverbruikers die reg het om te weet wat die ooreenkomste met Eskom behels.

Eskom het vroeër aangekondig dat beurtkrag onder meer die voorland van munisipaliteite is. Talle klein ondernemings het toe aangedui dat dit hul finansieel sal ruïneer.

Die publiek kan AfriForum help om die regstryd teen munisipaliteite voort te sit indien nodig, deur die woord “Eskom” na 38310 te SMS om R10 tot die regsfonds by te dra.

Alternatiewelik kan ’n direkte finansiële bydrae gemaak word deur ‘n e-pos te stuur na eskom@afriforum.co.za

 

Soortgelyke plasings