|

Eskom se beplande hoër vaste tariewe is onbillik en ondoeltreffend

AfriForum is van mening Eskom se beoogde verhoging van vaste tariewe sal kliënte straf en onbedoelde gevolge hê.

Eskom beplan om die vaste komponent wat alle Eskom-verbruikers betaal om hulle aan die netwerk te koppel, aansienlik te verhoog terwyl hulle die wisselende verbruikskostes glo wil verlaag.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, sê dié verhoging is onbillik. “Die feit dat tegnologie en die mark so vinnig besig is om te verander, is omdat Eskom sy tariewe so drasties verhoog het. Daar is ook geen dringendheid om meer doeltreffend te werk nie. Indien hulle aanhou om tariewe op te stoot, gaan mense groener en goedkoper alternatiewe soek.”

Mostert voer aan dat Eskom dus ’n plig het om hul eie wanbestuur uit te sorteer voordat hulle na verbruikers draai om nóg op te dok om probleme reg te stel. “Eskom moet ook verstaan dat hul onstabiele kraglewering – en nie slegs kostes nie – mense gedwing het om na ander tegnologieë te kyk. Mense gaan ondanks dié stap steeds na alternatiewe soek.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê dit is nie seker dat Eskom hul wisselende verbruikskostes ook sal verlaag nie. “Hoewel hulle dit as ’n paaimiddel aanbied, is daar geen waarborg dat hulle die verbruikskostes ook gaan verlaag nie; inteendeel, hulle sal verdere druk toepas vir hoër verbruikspryse.”

Volgens Brink gaan hierdie stap diegene wat toenemend van sonkrag afhanklik is en Eskom-krag slegs in noodgevalle gebruik, noop om Eskom finaal vaarwel te roep. “Dit beteken hulle gaan nie meer die vaste komponent hoef te betaal nie. Daarna gaan Eskom seker probeer om selfs mense met slegs sonpanele en -krag met ’n heffing te belas, al gebruik hulle geen Eskom-krag nie.”

Mostert sê enige Eskom-kostestruktuurverandering moet deur ’n gewysigde verskaffingskosteraamwerk of navorsingsdokument voorafgegaan word. “Ons sien nog niks daarvan nie,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings