|

Familie stort hart uit ná geliefdes in Knysna-brande sterf

Familielede van Tony Johnston, sy vrou, Madré, en hul driejarige seuntjie, Michael, het onlangs hul harte uitgestort in roerende briewe nadat die verwoestende Knysna-brande die gesin se lewens in Junie geëis het.

Tony en Madré was albei siviele ingenieurs en het op ʼn plaas in die Elandskraal-omgewing in die Karatara-gebied gewoon. Madré was ook agt maande swanger met die egpaar se tweede kind.

Hul lyke is op 7 Junie, op klein Michael se derde verjaarsdag, buite hul huis gevind. Luidens mediaberigte is die gesin deur rook oorval.

Madré word oorleef deur haar ouers, Gert en Triena van der Merwe, ’n suster, Linda, en ’n broer, Johan. Benewens sy ouers word Tony oorleef deur sy broer, John, en sy suster, Jana Stander.

Jana, Gert, Triena en Linda het briewe geskryf om hul hartseer en frustrasies rondom die tragedie te deel.

In haar brief skryf Linda oor die egpaar se inspirerende toewyding en liefde teenoor mekaar. “Madré en Tony was my voorbeeld van wat liefde behoort te wees met hul absolute toewyding aan mekaar, hulle het mekaar so goed verstaan.  In hul teenwoordigheid, was jy geïnspireer om meer lief te hê en meer verdraagsaam te wees.  ʼn Mens het ʼn ryker en beter mens van hulle af weggestap.”

Sy skryf ook dat die gesin se laaste paniekbevange oomblikke baie hartseer en slapelose nagte vir beide families veroorsaak het. “Dan onthou ek die nagmerries wat my weerhou het van slaap tot in die vroeë oggend ure, my babasussie en haar man en kleintjie se laaste oomblikke.  Ek hoop my suster het in haar laaste oomblikke veilig in Tony se arms gevoel.” 

Verder deel sy ook watter groot impak die gesin op hulle gemeenskap gehad het. “Hierdie wêreld is voorwaar ʼn armer plek sonder hulle.  Hul afsterwe word nie net deur hul familie gevoel nie, maar elkeen om hulle en digene waarmee hulle in kontak gekom het.  Hulle was ʼn broer en ʼn suster vir almal.”

Linda, sowel as Madré se ma, Triena, het in hul briewe verwys na die egpaar se ingesteldheid op veiligheid. “Die mees parate en ingeligte mense… gereed vir enige situasie, maar hul kon niks doen teen daardie verterende vuur nie.  Hul plek, hul huis, al hul besittings, hul verlede, saam met hul lewens, ALLES binne ʼn paar minute totaal uitgewis, so asof hul nooit bestaan het nie,” skryf Triena.

Sy het ook haar pyn as ouma gedeel oor die verlies van klein Michael en die egpaar se ongebore babaseuntjie. “Op 31 Mei 2017 gaan ons met liefde, baie drukkies, hartseer en ook ʼn tikkie blydskap uitmekaar, want oor ʼn paar weke kom ons lank kuier wanneer Boetie na wie almal met baie vreugde uitsien, gebore word.  Op 6 Junie kry ons ʼn scan van baba, hy is baie gesond en weeg al 2,5 kg.  Op 7 Junie, op Michael se derde verjaardag, kry ons die verpletterende nuus dat al 4 ons lieflingkinders dood is in die brand.  Ek mis jou sêgoed Michael, jou drukkies, jou boodskappies.  ‘Ouma Trien-Trien, kan ons jou bel?  Is jy wakker?  Ek is lief vir ouma.’ Ons het so baie saam gedoen en geleer.  Jou kennis van die natuur, bome, visse en diere, wat jy met ons deel.  So baie drome vir jou gehad.  So skielik en op ʼn wrede manier is jy van jou grootword ontneem.”  

Tony se jonger suster, Jana het in haar briewe verwys na die egpaar se huis wat hulle met trots self gerestoureer het. “Hul huis was hulle trots.  Die huisie in Kalanderkloof was vir hulle ʼn stukkie trots, ʼn wegkomplek, ʼn droomhuisie, tog ʼn werklikheid.  Hulle het met liefde en sweet dit opgebou van ʼn kleine houtkamertjie, tot ʼn lieflike hout woonhuis.”

Sy skryf verder dat die familie elke dag na die egpaar en Michael verlang. “Die hartseer sal seker nie ophou nie, maar ons blywende gevoel van liefde (vir hulle) sal net sterker word, en het my laat besef waaroor die lewe gaan.  Wees lief vir jou naaste en wees lief vir jou familie.”

Triena se brief is gister ook tydens ’n mediakonferensie voorgelees tydens die bekenstelling van AfriForum se omvattende verslag en dokumentêr oor die brande, Knysna uit die As.

Benewens dié verslag en dokumentêr het AfriForum ook in samewerking met Solidariteit Helpende Hand hul noodfonds na afloop van die Knysna-brande uitgebrei en bystand aan slagoffers in brandgeteisterde gebiede gelewer deur verskeie benodigdhede aan te koop en te skenk.

Lede van die publiek wat steeds ʼn bydrae wil gee, kan www.noodfonds.co.za besoek vir meer inligting.

Besoek www.afriforum.co.za en AfriForum se Facebook-blad om die volledige verslag te lees en na die dokumentêr te kyk.

Soortgelyke plasings