|

Familieboere: Stigters en bewaarders van die beskawing

“Let us not forget that the cultivation of the earth is the most important labor of man. When tillage begins, other arts will follow. The farmers, therefore, are the founders of civilization.”– Daniel Webster (Amerikaanse staatsman, 1782 – 1852).

Na byna twee eeue geld hierdie gesegde vandag nog. Die beskawing kan eenvoudig nie sonder kos bestaan nie, en dit is hoekom die wêreld altyd boere sal nodig hê. Na raming sal die wêreldbevolking teen die jaar 2050 bykans 10 miljard mense wees. Dit beteken dat ons byna twee keer soveel voedsel as tans sal moet produseer te midde van die uitdagings van voeding, armoede en onvolhoubare vlakke van massamigrasie wat stedelike gebiede en gemeenskappe potensieel kan verswelg.

Familieboere beset ongeveer 70-80% van benutte plaasgrond en produseer meer as 80% van die wêreld se voedsel wat waarde betref. Verder is familieboere die grondslag van dorpies en die anker van landelike ekonomieë en gemeenskappe. Terwyl hulle voedsame voedsel vir stedelinge produseer, verskaf familieboere ook broodnodige werkgeleenthede aan plaaslike gemeenskappe en beteuel hulle onvolhoubare vlakke van migrasie.

In die lig van hierdie projeksies het die Verenigde Nasies en sy filiale besef dat familieboere in die beste posisie is om hierdie kwessies die hoof te bied. Hulle het egter die steun van regerings, die burgerlike samelewing en tersaaklike wetgewende liggame nodig om profamilie-boerderybeleide op te stel wat die werklikhede waarmee familieboere elke dag te doen kry, in groter mate in aanmerking neem. Gevolglik is die Verenigde Nasies se Dekade van Familieboerdery 2019-2028 (VNDFB) op 29 Mei 2019 in Rome, Italië, van stapel gestuur as raamwerk om die belange van familieboere te bevorder.

Die taak wat voorlê, is geweldig – ons kan nie van familieboere verwag om van die grootste wêrelduitdagings die hoof te bied as hulle nie hulle beroep kan beoefen in ’n omgewing wat veilig en bevorderlik vir groei en voortgesette produksie is nie. Dit is hoekom die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) die Resolusie oor die Beskerming van Familieboere (die resolusie) aangeneem het. Hierdie konsepresolusie veroordeel enige vorm van geweld, of aanstigting daarvan, teen familieboere en doen ’n beroep op alle staatspartye om misdade teen familieboere proaktief te monitor, teen te werk en te voorkom.

Vroeër vanjaar het dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, daarop gewys dat geweld teen Suid-Afrikaanse familieboere in verskeie opsigte uniek is. Hy het gesê moorde op familieboere is baie wreedaardiger as ander moorde in die land. Die motiewe vir hierdie moorde is meesal onbekend, afgesien van hul beroep wat boere in landelike gebiede kwesbaarder maak. Die sosiale en selfs politieke omgewing is onduidelik oor hierdie dade, en in sommige gevalle word die aanvalle selfs aangemoedig en verheerlik op sosiale media. Die jeug is die toekoms van familieboerdery, en geweld teen familieboere kan ook meebring dat toekomstige geslagte nie die uitdaging sal aanvaar nie.

Saai gaan in die komende jaar met verteenwoordigers van buitelandse regerings en boereorganisasies van dwarsoor die wêreld vergader met die doel om die resolusie in September 2020 in die VN se Algemene Vergadering ter tafel te lê.

Ons moet ’n nuwe geslag familieboere aanmoedig om die uitdaging te aanvaar om ’n steeds groeiende bevolking te voed, maar ons kan dit nie van hulle verwag ten koste van hulle eie lewens en dié van hulle familie nie. Dit is hoekom ons ’n beroep op alle familieboere, vriende van familieboere en verbruikers doen om hulle steun aan die resolusie toe te sê by www.farmersresolution.org. Laat ons nooit vergeet dat ons van die landbouers van die aarde, en die stigters van ons beskawing, afhanklik is nie en laat ons saamstaan om aan familieboere die ondersteuning en krediet te help bied wat hulle verdien.

Soortgelyke plasings