|

Familiemark nou by Voortrekkermonument

Deur Marthinus Koekemoer

Daar is baie om na uit te sien by die familiemark wat Saterdag by die Voortrekkermonument (VTM) aangebied word. Met kosstalletjies, handgemaakte produkte en gaskunstenaars wat gaan optree is dit ’n dag wat nie misgeloop moet word nie.

Alhoewel dit die eerste keer is wat die familiemark by die VTM aangebied word, is dit beslis nie die eerste familiemark nie. Driné de Bruyn van Centurion het verlede jaar tydens die inperking besef daar is baie mense wie se inkomste aansienlik verminder het of selfs heeltemal weggeval het wat hulp nodig het. Dis hoe sy besluit het om die eerste familiemark verlede jaar by haar huis aan te bied om mense die geleentheid te gee om hul ware te verkoop om ’n inkomste te genereer.

“Ons het 60 stalletjies en meer as 1 200 besoekers by die eerste mark gehad,” sê De Bruyn. “Dit was ’n reusesukses en met die tweede mark het ons na die Doxa Deo-kerk in Centurion verskuif om meer stalletjies en besoekers te akkommodeer.”

Daar was 180 stalletjies en meer as 3 000 besoekers by die tweede mark wat op 28 Mei vanjaar aangebied is. Nou het die mark ’n permanente tuiste by die VTM gekry en sal voorts elke week gehou word. Toegang kos R20 per voertuig met hekke wat van 07:00 af oop is.

Ruan Josh is die eerste gaskunstenaar wat om 09:00 sal optree met Adam Tas wat 12:00 besoekers sal vermaak. AfriForum Sport sal ’n pretdraf aanbied en Kraal Uitgewers sal deur die loop van die dag die jongspan met ’n paar boek voorlesings besig hou. Die dag se verrigtinge maak om 14:00 klaar.

Pretoria FM is oudergewoonte weer media vennote vir die dag en volgens die omroeper Sarina Bosman is dié stasie baie opgewonde om betrokke te wees. “Pretoria FM is ’n gemeenskapsorganisasie wat glo in die krag van ’n gemeenskap. Dié familiemark is die ideale geleentheid om kleiner besighede te ondersteun, plaaslike talent te bemark en om die kultuurerfenis van Afrikaans en Afrikaner wees te vier.”

Om meer oor die mark uit te vind kontak De Bruyn by 083 279 9942.

Soortgelyke plasings