|

Fichardtpark-buurtwag help tydens noodroep

Die AfriForum-buurtwag in Fichardtpark, Bloemfontein, het op 23 April ondersteuning gebied nadat hulle ’n noodroep ontvang het van ’n persoon wat ’n vuurwapen op noodpersoneel gerig het.

Die buurtwaglede het tydens hul roetinepatrollie na ’n ongelukstoneel gehaas waar ’n persoon met ’n vuurwapen rondgeloop en dit op noodpersoneel gerig het. Met aankoms was verskeie sekuriteitsdienste saam met VR Med en Trauma Response Africa op toneel.

’n Lid van die publiek en ’n personeellid van Cobra Towing het die persoon met die vuurwapen in die hand gesien en die personeel op die toneel gewaarsku. Noodpersoneel het agter die noodvoertuie gewag, terwyl VR Security en die SAPD ook na die toneel gehaas het waar die persoon aangekeer en gearresteer is. Die wapen in die verdagte se besit, was ’n speelgoedpistool. Die verdagte is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

“Ons AfriForum-buurtwaglede reageer op ’n gereelde basis op noodroepe op hul sosiale-, nood- en radionetwerk platforms. Ons lede is bewus van die gevare en word toegerus met alle nodige toerusting om hulle sover moontlik te beveilig. Hulle ontvang ook opleiding oor onder meer toneelhantering, regsaspekte en bloedingbeheer om te verseker dat hulle die gemeenskap binne die raamwerk van die wet kan bystaan,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

“Hierdie is weereens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting en plaaslike- en nasionale radionetwerke in samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is.  Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit en saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings