|

Fluitjieblasers wil help om Abrahams uit kussings te lig

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag vir die tweede keer strafregtelike klagtes teen Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), by die Silverton-polisiestasie ingedien.

Dié klagtes hou verband met korrupsie, bedrog, diefstal, afpersing en vervalsing. Die klagtes is ook teen ses ander toplede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

In Februarie het AfriForum in samewerking met genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, klagtes van meineed en regsverydeling teen Abrahams ingedien.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê vandag se klagtes spruit voort uit ’n anonieme brief wat AfriForum gekry het wat uitbrei oor aantygings van ernstige strafregtelike gedrag teen Abrahams en ander lede van die NVG.

In die brief word ’n ernstige pleidooi aan AfriForum gerig om nie toe te laat dat die verrotting binne die NVG voortduur nie.

Volgens Taute verwys een aantyging na ’n onderlangs befondsde bedrieglike eis vir reiskostes van drie lede van die NVG. Die eise, ingedien vir goedkeuring om na Zeerust te reis vir werk, verdraai die feit dat hulle eintlik na Kaapstad gereis en R97 000 van die fondse daar spandeer het.

In nog ’n aantyging word verwys na ’n  getuiebeskermingsvoertuig wat aan die NDOV toegewys is, maar wat glo vir persoonlike voordeel gebruik het.

Taute meen alle regeringsbates moet te alle tye streng bestuur word en reisjoernale moet die gebruik van bates korrek reflekteer. In dié gevalle wil dit voorkom asof die NDOV op ’n korrupte wyse ’n persoonlike en/of kostelose amptelike voordeel verseker het waarop hy nie geregtig was nie.

Taute sê voorts aantygings van só ’n baie ernstige aard moet deur die polisie ondersoek word.

“Ons glo die aantygings is genoeg rede vir pres. Cyril Ramaphosa om Abrahams uit sy pos te verwyder, aangesien dit duidelik is dat hy nie geskik is om die pos te beklee nie.”

Benewens druk deur AfriForum dat Abrahams sy pos moet ontruim, hang daar ook ’n verdere swaard oor sy kop nadat die Noord-Gautengse hoë hof vroeër bevind het dat sy (Abrahams) se aanstelling ongeldig was. Die hooggeregshof het in Desember gelas dat Abrahams sy pos moet verlaat. Die NVG het teen dié hofbeslissing geappelleer. Die appèl is in die Konstitusionele Hof aangehoor en uitspraak in die saak is voorbehou.

Soortgelyke plasings