|

Fochville-tak maak skoon by plaaslike hoofsubstasie

Die AfriForum-tak in Fochville het op 20 en 23 Mei rondom die hoofsubstasie in hierdie dorp skoongemaak, nadat die stadsraad en Eskom al vir jare versuim om die perseel in stand te hou en skoon te maak. Die gras is gesny en die tak beplan ook om ligte by die substasie te laat installeer om die veiligheid op te skerp.

Sedert Desember 2021 is daar herhaaldelik toevoerkabels en kragbokse binne in die substasie gevandaliseer wat veroorsaak dat Fochville dan soms vir dae sonder elektrisiteit is. In een geval was die koste om die skade te herstel R340 000.

Die sekuriteitswagte by die substasie is nie gewapen nie en het geen flitse of tweerigtingradio’s nie, dus sluit hulle hulself toe en is te bang om buitentoe te gaan as iets gebeur. Die gras en onkruid groei op sommige plekke meer as twee meter hoog en veroorsaak dat skelms tot teen die draad kan kom sonder om gesien te word.

Die tak het ook in samewerking met die raadslid van wyk 14 in Fochville die substasie op die hoek van Irislaan en Malvastraat beveilig deur nuwe slotte op te sit en ’n solar lig laat installeer. 

Volgens JP van der Merwe, die Fochville-takvoorsitter, kan die gemeenskap nie meer vir die stadsraad wag om iets te doen nie. “Die gemeenskap moet self verandwoordelikheid vat vir hul dorp,” sê hy.

Soortgelyke plasings