|

Forum Films sal help om Afrikaners se verhaal te vertel

Forum Films, die nuutgestigte videovervaardigingsmaatskappy wat deur AfriForum op die been gebring is, is vandag amptelik in Centurion bekendgestel.

Kallie Kriel, voorsitter van die direksie van Forum Films, het gesê geskiedenis word met die geboorte van die nuwe maatskappy gemaak. “Ons vier nie net iets nuut nie, maar die krag van ’n gemeenskap.”

Hy het die belangrikheid van selfstandigheid en ’n skuif weg van staatsafhanklikheid beklemtoon en gesê AfriForum-lede se ondersteuning maak dit moontlik om projekte soos Forum Films aan te pak.

Volgens Kriel gee instellings soos Forum Films gemeenskappe die geleentheid om hul eie geskiedenis te skryf en nie slagoffers te wees nie. “Ons doel is nie om mooi rolprente of dokumentêre te maak nie. Ons is besig om ’n toekoms vir ons en ons kinders aan die suidpunt van Afrika te bou. Forum Films is ’n belangrike baksteen om ons boodskap ook op ’n moderne manier oor te dra.”

Kriel het voorts gesê daar word toenemend ’n weergawe van die geskiedenis aangebied wat die ANC as vlekkeloos uitbeeld en Afrikaners as boos. “Forum Films kan help om die verdraaiing van die geskiedenis reg te stel en ons mense hoop te gee. Soos elke gemeenskap in die wêreld foute gemaak het, het Afrikaners ook. Maar ons is ook mense wat selfvertroue kan en mag hê omdat ons ook buitengewone dinge reggekry het.”

Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, het gesê die span by Forum Films is jonk, dinamies en passievol oor wat hulle doen. “Ons is besig met iets groter as onsself en dit is ’n voorreg om te kan sê dat ons ook besig is om ons roeping uit te leef.”

Roets het gesê Forum Films se doel is nie om geld of wins te maak nie, maar om die Afrikaanse kultuur te bevorder.

Hy het verduidelik dat die media- en nuuswêreld soos wat mense daaraan gewoond was, besig is om dramaties te verander en daarom is daar ’n groeiende behoefte vir ’n instelling soos Forum Films wat benewens films en dokumentêre ook nuus-, debat- en aktualiteitsprogramme sal vervaardig. Verskillende verspreidingstrategieë sal gebruik word om die boodskappe oor te dra.

Die bekende rolprentvervaardiger en resensent Leon van Nierop het Forum Films geluk en voorspoed toegewens. “Die Afrikaanse film is op die oomblik op die beste plek wat dit ooit was. Ons is nie meer skaam vir ons taal nie en die gebruik daarvan in films is nie meer so formeel nie.”

Hy het verwys na wonderlike films wat vandag gemaak word en mense as’t ware na plekke neem waar hulle nie noodwendig wil gaan nie. “Dit is opwindende tye en veral verblydend dat daar soveel jong talent is wat nuwe bloed in die bedryf bring en nie bang is om dit in Afrikaans te doen nie.”

 

 

Soortgelyke plasings