|

Forum Films stel indrukwekkende eerste kortfilm bekend

 

Deur Alet Rademeyer

Forum Films, ’n inisiatief van AfriForum, se eerste kortfilm, Die Parkie Storie, is gisteraand in Menlyn Park, Pretoria, bekend gestel.

Dit is ’n aksiebelaaide Suid-Afrikaanse komedie wat sommige kykers met tye tot op die voorpunt van hul stoele sal dwing.

Die film handel oor Luan (Luan Lauw), ’n weeskind met Superman-kragte, wat ’n ogie op ’n oulike kelnerin (Lilani Prinsen-Potgieter) het. Sy bedryf ’n koffiewinkel in die parkie waar al die drama en aksie afspeel.

Laun wil die parkie en sy mense teen ’n gewetenlose rampokker (André Odendaal) beskerm, maar kom gou agter dat hy die aandag van ’n klompie gevaarlike mense getrek het.

Dié drama/komedie het ’n ouderdomsbeperking van 16 en bevat gewelddadige tonele en kru taalgebruik. Altesame 59 mense het aan die kortfilm gewerk en dit het 9 800 uur geneem om by die eindproduk uit te kom.

Die span by Forum Films het in 2018 met die vervaardiging van die film begin. Dit is vervaardig deur Alexa Reinecke en Louis Gagiano. Pierre Malan was verantwoordelik vir die regie en Elrich Yssel vir die redigering.

Verskeie bekende akteurs soos André Odendaal, Robbie Wessels, Chris Chameleon, Angelique Gerber en Riaan Cruywagen is ook in die film te sien.

Gerber het tydens die bekendstelling gesê dit was vir haar ’n lekker ervaring om in die film te speel. Sy vertolk ’n “skurkagtige” rol van ’n kelnerin wat Laun in ’n stadium probeer vergiftig deur ’n konkoksie op sy pizza te sprinkel wat hom bedwelm. “Dit was pret gewees, veral as ek nou dink aan hoe moeilik dit skielik vir kunstenaars geraak het om nie in lock down te kan werk nie.”

Shanti Mitchell vertolk die rol van die Bruin Beer in die film wat met sy groot liggaamsbou ’n paar karakters intimideer en katswink slaan. “Ek is eintlik in die IT-bedryf. Hierdie is my eerste film en hoewel Afrikaans nie my eerste taal is nie, het ek dit baie geniet.”

Oor sy rol sê Luan dat hulle die water met die film getoets het. “Ek het goeie herinneringe aan hoe ons dit gemaak het. Ons het baie goeie vriende op die stel gemaak en ek sien uit om meer hiervan te doen.”

Die Parkie Storie is eintlik Pierre Malan se breinkind en ’n werkstuk tydens sy studiejare wat uiteindelik in ’n volwaardige film geëindig het.

Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, sê die maatskappy is baie trots op hierdie eerste kortfilm. “Ons doel is om Afrikaans en die Afrikaanse kultuur deur film te bevorder. Daar word reeds aan ’n tweede kortfilm gewerk.”

Louis Gagiano, een van die vervaardigers, meen dit is belangrik om Afrikaans kuns en kultuur uit te bou. “Om films te maak en stories te vertel, is ons passie.”

Die Parkie Storie is ook nou op Showmax te sien.

Soortgelyke plasings