|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

AfriForum se Groter Moot-tak het vier noodwaterpunte opgerig om water in tye van nood aan die gemeenskap te verskaf. Die waterpunte is by die laerskole Pierneef, Wonderboom-Suid, Villieria en die Innesdale Sportklub geleë. Die waterpunte het elk ’n 5 000 liter tenk wat met boorgatwater volgemaak word. Dié water is geskik vir huishoudelike gebruik.

Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het, word daar verwag dat die verhoor van Tasmin Wells op twee klagtes van strafbare manslag van 6 tot 8 Desember 2021 in die Middelburgse Streekhof sal plaasvind. Sy het die ongeluk veroorsaak waarin Alet Herbst (75) en Lina Lukele (51) oorlede is. Wells was vermoedelik ten tye van die ongelukkig onder die invloed van alkohol.

Die AfriForum-tak in Fichardtpark, Bloemfontein, het met die hulp van Bee Removals bye in Spangenbergstraat voor Laerskool Fichardtpark verwyder. Die bye het in ’n waterkraan nes gemaak en vier byekorwe is versigtig uitgehaal en na ’n meer geskikte omgewing geskuif wat nie ’n risiko vir inwoners inhou nie.

AfriForum en sy geaffilieerde ideesentrum Opinor het ’n verslag bekendgestel wat poog om ’n verstaanbare raamwerk te verskaf vir die aanpak van ’n burgerlikeversetveldtog. Hierdie verslag maak ook gebruik van internasionale kenners en is spesifiek vir die Suid-Afrikaanse politieke konteks opgestel.

“Dit is nie te sê dat AfriForum ’n burgerlikeversetveldtog gaan aanpak nie. Ons het wel agtergekom dat burgerlike verset toenemend ’n kontemporêre fenomeen in Suid-Afrika word,” sê Ernst Roets, uitvoerende voorsitter van Opinor en hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

Die AfriForum-tak in Zeerust het die volhoubare skoonmaak van die Burger-monument in die dorp voortgesit. Die tak het in Mei vanjaar verantwoordelikheid vir die monument geneem wat toe vir die eerste keer skoongemaak is en sedertdien onderhou word. Op hierdie manier verseker die tak dat die monument bewaar en die terrein in stand gehou word.

Soortgelyke plasings