|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

AfriForum en Opinor het vandeesweek die eerste amptelike Kajuitraad aangebied waar kwessies soos die pad na selfbestuur, groeiende outonomie vir Afrikaners, vryheid deur instellings en burgerlike verset bespreek is.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, was van die sprekers.

Kallie Kriel, Dirk Hermann en Flip Buys in gesprek met Ernst Roets by AfriForum en Opinor se eerste amptelike Kajuitgesprek.

Die fokus het geval op planne en strategieë vir die volhoubare voortbestaan van Afrikaners aan die suidpunt van Afrika. Die beginsel van ’n federale bestel is ook deurgetrap.

Kriel het gesê sentralisme deur die regering is die wortel van alle kwaad en desentralisering van mag na gemeenskappe is nodig.

Hy het drie planne vir Afrikaners se vestiging bespreek, naamlik:

  • Ankergemeenskappe waar Afrikaners in groot getalle bymekaar is en waar hulle danksy hul getalle bepaalde goed kan doen soos om skole, ouetehuise en ander dienste te vestig.
  • Die tweede plan is die Orania-plan waar daar ’n Afrikanermeerderheid is. Dié plan maak dit vir gemeenskappe moontlik om hul eie planne soos ’n werkende munisipaliteit, werkskepping, ontwikkelings en sonplase aan te pak.
  • Die derde plan is steun vir groeiende outonomie in die Wes-Kaap. Hoewel Afrikaners nie daar ’n meerderheid is nie, is hulle wel deel van ’n meerderheid wat nie die ANC ondersteun nie. Deur in koalisie met ander groepe te gaan, is dit moontlik om beheer oor sake te kry.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het ’n skoonmaakprojek by die groenstrook tussen Sydney- en Van der Stelstraat in Bellville van stapel gestuur om ’n skoner omgewing vir inwoners te skep. Die projek het gevolg nadat die tak reeds twee soortgelyke skoonmaakprojekte in die noordelike voorstede van Kaapstad aangepak het.

Kenny Denwoodie

Die AfriForum-tak in Moreletapark het die afgelope twee maande ’n projek aangepak om kommunikasie tussen die buurtwagte in die Welbekend-area te verbeter. Die nuwe radiostelsel stel die buurtwag in staat om ’n area van sowat 20 000 hektaar te dek.

“Tweerigtingkommunikasie is baie belangrik in vandag se tye. Beurtkrag en selfoonnetwerke wat ons gereeld in die steek laat, bemoeilik ons werk, daarom is radiokommunikasie so belangrik,” sê Ledge Mouton, AfriForum se taktesourier in Moreletapark.

Die AfriForum-tak in Ermelo het onlangs gehelp om voedselnood op verskeie plekke in die dorp te verlig. Dié tak het altesaam 145 kg groente aan Ermelo Outreach geskenk. Dit sal aan gesinne in nood, die SAVF en die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum versprei word. Daar is ook ’n kontantskenking aan die Laerskool J.J. van der  Merwe vir hul koskasprojek gemaak.

Chantal Boonstra en Frikkie du Plessis

Die AfriForum-buurtwaglede in Springs het praktiese opleiding ontvang en ingeoefen. Hierdie buurtwag ontvang al vir ’n geruime tyd opleiding aanlyn en die takbestuur het dit goedgedink om die opleiding prakties met AfriForum se patrollielede in te oefen.

Die AfriForum-tak in George het ’n plaaswag op Hoekwil gestig. Hoekwil is ’n landelike gemeenskap in die ooste van George. Dit volg kort op die hakke van die stigting van die Herold-plaaswag. Dis ’n getuigskrif van die harde werk wat agter die skerms deur die AfriForum-tak en die gemeenskapsveiligheidspan in George gedoen word om hierdie dorp veilig te hou.

Soortgelyke plasings