|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum en sy vrywilligers het vandeesweek weer bewys dat daar nie ’n lui haar op hul koppe is nie.

Die AfriForum-tak in Benoni het moue opgerol en as deel van die #VegEnBou-projek verskeie projekte aangepak om die algehele beeld van die stad te verbeter. Hulle het onder meer parke skoongemaak en klimrame opgegradeer, onwettige advertensieborde verwyder, bome verwyder wat omgeval het en slaggate gevul.

Benoni se tak hard aan die werk.

In Mookgophong het die tak en buurtwag die voetoorgange by Laerskool Eugène N. Marais oorgeverf sodat dit weer duidelik sigbaar is.

Naboomspruit-tak verf voetoorgange.

Met die feesseisoen om die draai, is AfriForum se 164 buurtwagte gerat om hul gemeenskappe veilig te hou. Die organisasie het aangekondig dat sy buurtwagte van 1 tot 31 Desember patrollies regoor die land sal hou om hulle algehele sigbaarheid gedurende Desember te verhoog.

Die AfriForum-buurtwag in Fochville is ook twee vierbeen-vriende ryker. Duke (2) en Haylie (3), was deel van Gladiators se sekuriteitseenheid en is aan die buurtwag geskenk. Duke is ’n opgeleide aanvalshond en Haylie is ’n opgeleide spoorsnyhond. Volgens Eugene Potgieter, eienaar van Gladiators, het hulle nie meer die honde gebruik nie en het besluit om die honde vir ’n organisasie te skenk wat hulle wel sal benut en mooi versorg. Twee gekwalifiseerde opleiers het hulp aangebied met die honde se verdere opleiding en aanpassing by AfriForum.

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het tot einde vandag om te reageer op AfriForum se aanmaningsbrief waarin die organisasie aanvoer dat die voortdurende implementering van die aandklokreël as deel van die nasionale ramptoestand irrasioneel en ongeregverdig is. Suid-Afrika is sedert 15 Maart 2020 in ’n ramptoestand en AfriForum meen die voortdurende afdwing van aandklokreëls op die publiek is onaanvaarbaar en nie gegrond op feitlike bewyse nie.

In die brief aan die minister het AfriForum die volgende versoek: 

  1. Dat redes skriftelik verskaf moet word oor waarom daar ’n nasionale aandklokreël ingestel is sowel as bewyse ter ondersteuning van die effektiwiteit van die aandklokreël as voorsorgmaatreël teen COVID-19.
  2. Dat die dokumente en ondersteuningsdokumente, deskundige verslae, bewyse en data wat die besluit om ’n aandklokreël in te stel ondersteun, beskikbaar gemaak moet word.
  3. Dat die implementering van die nasionale aandklokreël summier beëindig moet word.

Soortgelyke plasings