|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

Dit was nog ’n besige week in AfriForum-geledere met baie bedrywighede by die onderskeie takke en twee reuseoorwinnings vir die privaatvervolgingseenheid.

Dis vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid verblydend dat een van die kindermishandelingsake waarby die eenheid ’n waaksaamheidsopdrag het van die Brits Streekshof na die Pretoria-Noord landdroshof oorgeplaas is.

“Alhoewel ons die Direkteur van Openbare Vervolging se besluit om wel vervolging in te stel, verwelkom, is dit kommerwekkend om te dink dat hierdie saak, asook ander sake van geweld teen vrouens en kinders waarin die eenheid bystand bied, waarskynlik net sou verdwyn het as ons nie ingegryp het nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid.

Die ouers van ’n babadogtertjie is ook onlangs in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en kinderverwaarlosing nadat die Nasionale Vervolgingsgesag deur die privaatvervolgingseenheid se toetrede genoop was om te vervolg. Hulle word in Desember gevonnis.

In nog ’n oorwinning vir Nel en sy span het landdros John Maloba in die Johannesburgse Landdroshof bevind dat Naeem Deedat vervolg kan word vir die dood van sy vier kinders en sy vrou, Suraya Deedat. Hulle is in 2011 in ’n brand, waarvan Naeem ongedeerd ontsnap het, in hul huis in Johannesburg dood. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Suraya se familie.

AfriForum Jeug het ’n bedrag van R 5 500 aan Quentin Meyer geskenk om die grafte van dr. Herman Dirk van Broekhuizen en Elsje Francina van Broekhuizen in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes te herstel.

Dr. Van Broekhuizen was een van die vroegste spelers in die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan en sy vrou, Elsje, was die kleindogter van Paul Kruger.

“AfriForum Jeug glo in ons erfenis en dat ons erfenis bewaar moet word sodat ons dit aan ons nageslagte kan oorlaat,” sê Petri van der Walt, nasionale koördineerder vir AfriForum Jeug se dorpstrukture.

AfriForum se Potchefstroom-tak het onlangs hul eie hommeltuig gekry om te help om misdaad te bekamp. ’n Geskikte vlieënier is reeds vir opleiding gestuur. Die tak sal volgende jaar nog vlieëniers laat oplei.

AfriForum se Groter Moot-tak het ná die afgelope week se storms vyf bome wat in die Moot omgeval het, verwyder. Van hierdie bome het strate versper.

Soortgelyke plasings