|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

In minder as ’n week nadat pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) bekragtig het, het meer as 200 000 mense AfriForum se Stop Bela-petisie geteken. Volgens AfriForum is dit ’n duidelike bewys van die publiek se sterk teenstand teen hierdie wet met sy verskeie ondeurdagte en gevaarlike bepalings.

AfriForum is gereed om enduit te veg in die kragtariefsaak teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA). NERSA het vandeesweek ’n aansoek by die Hoogste Hof van Appèl ingedien om teen ’n vroeëre uitspraak te appelleer oor die implementering van onregmatige en ongeldige kragtariefverhogings aan minstens 100 munisipaliteite.

’n Beroep is op Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, gedoen om dringend saam met meer as 5 000 geregistreerde siviele ingenieurs te werk wat in die Suid-Afrikaanse waterinfrastruktuursektor werksaam is. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Departement van Water en Sanitasie nie genoeg inspekteurs het nie.

Verder is ’n beroep ook op Ramaphosa en Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, gedoen om groter erns te maak met die huidige konsultasieproses oor Nasionale Gesondheidsversekering.

In ’n parlementêre voorlegging het AfriForum verdere druk op die regering geplaas om TV-lisensies te skrap en die SAUK te privatiseer.

Die burgerregteorganisasie het ’n stap-vir-stap-gids bekendgestel wat potensiële vuurwapeneienaars help met die vereistes om ’n vuurwapen aan te koop.

AfriForum het ook ’n petisie, wat meer as 17 000 inwoners van Pretoria onderteken het, aan verteenwoordigers van die Tshwane-metro oorhandig. Met hierdie petisie word ’n beroep op die koalisievennote gedoen om alles in hul vermoë te doen om die metro uit die hande van ’n ANC-EFF-koalisie te hou.

Ná ’n vergadering met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor die vordering van veelvoudige diensleweringsprobleme in Parys het dié munisipaliteit ingestem tot ’n direkte kommunikasielyn en tweeweeklikse vergaderings met gemeenskapsverteenwoordigers soos AfriForum, Metsi Pompong en Save Ngwathe.

AfriForum sal ook verdere stappe oorweeg indien die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit nie binne vyf dae op ’n brief oor die ernstige rioolprobleem in Kakamas, Kenhardt en Keimoes reageer nie.

Die AfriForum-tak in Swellendam het agt nuwe koeëlvastebaadjies vir dié tak se buurtwaglede aangekoop.

Die Fochville-, Roodepoort-, Johannesburg-noord-, Krugersdorp- en Randfontein-buurtwag het saam met die polisie, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en ander rolspelers ’n massapatrollie in Fochville gehou om infrastruktuur teen vandale te beskerm.

Die volgende AfriForum-takke het die afgelope week bome geplant: Keimoes (16), Zeerust-tak (28 geplant en 46 geskenk), Vereeniging (35) en Bronkhorstspruit (2).

In Vereeniging is die klimrame en speelapparate in die parkie in Risieville oorgeverf. 260 sakke teer is aan die NG Kerk Arcon Park geskenk sodat die pad voor die kerk herstel kan word.

Ses Bronkhorstspruit-buurtwaglede het ook brandbestrydingsopleiding by Forum Sekuriteit voltooi.

In Centurion het die AfriForum-tak ’n nuwe sekuriteitskamera by een van die substasies in Clubview opgerig om diefstal en die onwettige storting van vullis hok te slaan.

Die Noord van die berg-buurtspan in Pretoria het in Augustus 409 vullissakke gevul en 63 vragte rommel weggery. Die span het 4,2 hektaar gras gesny en 12 plaaslike parkies in stand gehou deur die gras te sny en rommel op te tel.

Altesaam 42 vrywilligers het die AfriForum-tak in Zeerust gehelp om die begraafplaas skoon te maak. Twee ton tuinvullis is verwyder en 12 vragte vullis is weggery.

AfriForum se Helderbergkom-tak het vloerteëls aan die Somerset West Night Shelter geskenk vir die verbetering van hul fasiliteite. Hulle het ook toiletware (insluitende seep en tandepasta) en beddegoed aan dié skuiling geskenk. Saad, geskenk deur Hygrotech, is ook aan Somerset West Village Garden se gemeenskapstuinprojek oorhandig.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het besoek afgelê by verskeie laerskole in die Paarl, asook by Laerskool Balmoral in Bronkhorstspruit.

Soortgelyke plasings