|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se buurtwagte het die afgelope tyd verskeie booswigte gefnuik met hul goed georganiseerde optrede.

In Groblersdal het AfriForum se R33-plaaswag ’n suksesvolle arrestasie gemaak nadat ses blouwildebeeste onwettig op ’n wildplaas met honde gejag is. Hierdie plaaswag het ook met die hulp van die organisasie se regs-en-risiko-afdeling ’n grondgryppoging gestuit. Die nodige regsprosedures is gevolg en die onwettige betreder het daarna vrywillig sy struktuur afgebreek en die eiendom verlaat.

Die flinke optrede van ’n protospanlid van AfriForum se Vaalharts-buurtwag het die diefstal van ’n vragmotor voorkom nadat hy die verdagtes se verdagte optrede waargeneem het. Hy het die verdagtes agternagesit, wat by die taxistaanplek gaan skuil het.

AfriForum se Alfa-buurtwag, wat deel is van die Overstrand-tak, het saam met ander rolspelers ’n vrou wat dringende mediese hulp benodig het, te hulp gesnel. Dié buurtwag het die polisie ook in ’n ander voorval gehelp om ’n gebied te fynkam vir leidrade ná ’n aanval op ’n bejaarde egpaar.

Die AfriForum-tak in Kaap Agulhas het ’n buurtwag in Struisbaai gestig.

AfriForum het ook sy regspan opdrag gegee om die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit op terme te plaas oor ’n ontwikkeling by Wonderfontein, Sasolburg. Dié ontwikkeling is van stapel gestuur voordat daar aan al die voorwaardes voldoen is.

AfriForum se Potgietersrus-tak het melkhoutbome aan Laerskool Krugerpark, Hoërskool Piet Potgieter en die CVO Skool Potgietersrus geskenk as deel van die organisasie se boomplantmaandprojek.

Leon Santos Conga, voormalige Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) spesiale magte operateur, is danksy die hulp en ondersteuning van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, lewenslank gevonnis vir verkragting en poging tot moord nadat hy Antoinette Ndishishi, sy destydse meisie, doelbewus met MIV besmet het.

Die burgerregteorganisasie het vandeesweek te kenne gegee dat daar nou nog meer vrae is oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) nadat die minister van Basiese Onderwys die begrotingsbesnoeiings as ’n “nasionale krisis” beskryf het.

AfriForum het ook in ’n verklaring op Erfenisdag gesê dat die omstrede Bela-wet tot op hede die ernstigste bedreiging inhou vir erfenis in die land, wat vrae laat ontstaan oor die betekenis van enige amptelike vierings oor erfenis.

Die organisasie se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer, Matteus, het in samewerking met die Durbanville-gemeenskapsforum die Laerskool Gene Louw besoek om leerders met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om boeliery te bekamp.

Euléne Bornman, ’n finalejaarregstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP), is as die nuwe sekretaris van Tuks se Studenteraad (SR) aangewys ten spyte van ’n reeks valse aantygings en doelbewuste pogings om haar reputasie te skaad en sodoende haar verkiesingsveldtog van stryk te bring. AfriForum Jeug het benadruk dat Bornman, ook ’n AfriForum Jeug-raadslid, se integriteit en verbintenis tot die regte van studente vertroue by haar medestudente inboesem en dat dit, eerder as blatante leuens, uiteindelik die beslissende rol in haar verkiesingsveldtog gespeel het.

AfriForum Jeug het ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen om Jolene le Roux nie vir die wolwe te gooi nie en dat die instelling dringend moet ingryp om ’n einde te bring aan die onreëlmatige optrede van ondergeskikte strukture van die US teen haar.

Soortgelyke plasings