|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

AfriForum het die afgelope week op kultuurgebied ’n groot bydrae gemaak met sy betrokkenheid by die Aitsa 2021 Musiektoekennings en die aanbied van ’n debatskompetisie vir universiteitstudente.

AfriForum was die hoofborg by die Aitsa’s wat by die AfriForum Teater aangebied is. Verskeie kunstenaars onder wie, Elandré Schwartz, Riana Nel, Ricus Nel, Christia Visser, Johan C Venter, Juan “Floors” Oosthuizen en die VasVat Dansorkes, is vereer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is belangrik dat Afrikaanse musiek gekoester word om dit vir ons, ons gemeenskap en ons nageslagte te bewaar.

In ’n opwindende woordestryd het die debatspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) die span van die Universiteit van Pretoria (UP) gewen in die finale rondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Die tema het gehandel oor of die land ’n nuwe Grondwet nodig het of nie.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sê dit was ’n voorreg om die debat te beleef en te sien hoe flink die spanne met hulle woorde is. Sy het die spanne gelukgewens en gesê hulle het ’n standaard gestel wat moeilik getroef sal kan word.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook vandeesweek rede om te vrede te voel, met oorwinnings wat in die howe behaal is.

Die saak teen die beskuldigde in die moord op Isabel van Coller twee jaar gelede het in die Johannesburgse Landdroshof voorgekom en is uitgestel tot Januarie 2022 vir die opsporing van ’n medeverdagte. Die saak sal dan oorgeplaas word na die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg vir verhoor. Die beskuldigde wat vanuit beeldmateriaal van die kaping blyk die skoot af te gevuur en in Van Coller se kar weggejaag het, staan tereg op klagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Dit volg nadat die privaatvervolgingseenheid ingegryp het namens Harriet Ackerman, Van Coller se tweelingsuster en ’n senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), omdat sy geen sinvolle terugvoer oor die vordering van die saak ontvang het nie.

In nog ’n saak het landdros Bertus van Zyl in die Upington-landdroshof die privaatvervolgingseenheid gelyk gegee in die formele geregtelike doodsondersoek (GDO) na Maverick Links. Dit volg nadat die NVG weer eens sy plig versuim het om vervolging in te stel wat gelei het tot hierdie GDO. In hierdie geval was die slagoffer ’n 14-jarige seun. Links is na bewering reeds in Julie 2017 deur ’n tienjarige maatjie met die maatjie se pa se dienspistool doodgeskiet. Die doel van ’n GDO is onder meer om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kan word vir die slagoffer se dood.

Van Zyl se bevinding volg kort op die hakke van landdros John Maloba se bevinding in die Deedat-GDO in die Johannesburgse landdroshof. Maloba het opgemerk dat die Staat die hof vir GDO’s gebruik as ’n vangnet of as repetisie vir ’n verhoor en ook om aan slagoffers te illustreer watter slaggate ’n verhoor kan inhou.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen die NVG se konstante afstanddoening van hul grondwetlike plig om te vervolg deur eerder GDO’s in te stel, is ’n misbruik van die proses en ’n miskenning van die slagoffers van misdaad, aan wie hulle pligsgebonde is, se regte.

Soortgelyke plasings