|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

In ’n week waartydens AfriForum ’n groot oorwinning vir die land se matrikulante behaal het, het verskeie AfriForum-takke ook goed op dreef gekom met verskeie aksies wat hulle aangepak het.

Nadat die Departement van Basiese Onderwys aangekondig het dat die klas van 2021 nie hul uitslae in die media sal kan sien nie, het AfriForum en Maroela Media hulle tot die hof gewend om die uitslae wel openbaar te maak. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het AfriForum en Maroela Media gelyk gegee dat dit in die openbare belang is om wel die uitslae te publiseer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die hofbevel is ’n oorwinning vir duisende matrikulante wat hul skoolloopbaan ná twaalf jaar afgesluit het.

“Baie van hulle het baie hard gewerk om uitmuntende prestasies te behaal. Dit kan nie nou sommer onder die mat ingevee word nie. Dit moet gevier word.”

Terwyl swaar reën groot gedeeltes van die land getref het, het dit nie die AfriForum-tak in Warrenton gekeer om die ingang van hul dorp op te knap nie. ’n Skoonmaakaksie is die afgelope naweek afgeskop waar daar onder meer gras tussen die verplante by die ingang van die dorp verwyder is.

“Daar is steeds baie wat gedoen moet word om die ingang op te knap maar wanneer dit eers afgehandel is behoort die instandhouding aansienlik makliker te wees,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

AfriForum het met hierdie projek ook middagetes by verskeie besighede in die dorp afgelewer om hulle ’n voorspoedige 2022 toe te wens.

In Piet Retief het die AfriForum-tak en lede van die publiek onlangs ’n klomp slaggate herstel. Slaggate is in Engelbrechtstraat gevul waar die straat kruis met Klip-, Van Dyk-, Von Willigh- en Olivierstraat, asook op die hoek van Von Brandis- en Van Dykstraat.

’n Groot aantal donasies is vanaf die publiek ontvang om die herstelwerk moontlik te maak. Hierdie donasies sluit in teer, sement, grond, klipmengsels en verversings wat die lede kon geniet tydens die aksie. “Ons is moeg om te wag vir ’n munisipaliteit wat nie hulle werk doen nie. Daarom spring ons in en doen dit self,” sê Gerhard Böhmer, lid van AfriForum se Piet Retief-tak.

Die Rustenburg-tak het die kragprobleem in Rhenosterfontein, Pattatadraai en Waterkloof na die provinsiale regering verwys. Dit volg ná verlede jaar se skrywes aan die munisipale bestuurder op dowe ore geval het. Verskeie transformators in landelike dele is oor die afgelope twee maande beskadig en nog nie herstel nie. Indien die probleem nie opgelos word nie, sal AfriForum verdere regstappe oorweeg.

Ons is moeg om te wag vir ’n munisipaliteit wat nie hulle werk doen nie. Daarom spring ons in en doen dit self.

Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het ’n brief aan die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur om die munisipaliteit op terme te plaas. Die tak het die munisipaliteit ook in die brief versoek om ’n aksieplan op te stel oor die gereelde kragonderbrekings wat inwoners ervaar.

“Die munisipaliteit versuim hul plig deur nie gereeld instandhouding te doen nie en deur nie dienste aan inwoners te lewer nie. Die eens mooi Vanderbijlpark is besig om by die dag meer vervalle te word,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek.

Soortgelyke plasings