|

Forum Nuus: Die week se blitsflits

Swaar reën en swak infrastrukture het AfriForum se takke vandeesweek bedrywig in hul onderskeie dorpe gehou.

Weens reënbuie wat gedurende Desember en Januarie oor die land uitgesak het, het takke soos dié in Ventersdorp, Piet Retief, Klerksdorp en Bethal ingespring om paaie te herstel. Bethal se tak het 200 sakkies teer, wat deur die gemeenskap geborg is, gebruik om slaggate rondom laerskole te vul en sowat 24 sakkies teer was nodig om ’n reuseslaggat in Malherbestraat te vul. In Klerksdorp is 360 sakkies gebruik om meer as 100 slaggate te vul.

Die span van die Bethal-tak besig om slaggate te vul.

Die Delareyville-tak moes inspring toe die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit niks gedoen het om inwoners in Proteastraat van vloedwaters, wat vanuit landerye na huise oorgespoel het, te red nie. Die tak is genoop om ’n masjiengraaf te huur om slote te grawe om die water uit die strate te herlei.

Danie Knoetze, ’n inwoner van Heilbron, het AfriForum, die FAK en die Erfenisstigitng ingelig oor die konsentrasiekampgrafte in die Heilbron-begraafplaas wat met water bedek was. Dit blyk dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit mense lukraak rondom die konsentrasiekampgrafte begrawe en hierdie nuwe grafte vorm ’n wal wat veroorsaak dat die water nie kan uitvloei nie. Knoetze het ’n pomp beskikbaar gestel om die derduisende liter water uit die begraafplaas te pomp, terwyl AfriForum onderneem het om die koste daarvan te betaal.

Die konsentrasiekampgrafte in die Heilbron-begraafplaas wat met water bedek was.

In Paulpietersburg het die tak die plaaslike begraafplaas skoongemaak, terwyl die Keimoes-tak hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit het. Die jeugvleuel van die Bothaville-tak het ook ’n 2,5 km area in hul dorp skoongemaak en altesaam 20 kunsmissakke vol vullis opgetel.

Vrywilligers aan die werk in Paulpietersburg.

Die Hertzogville-tak het 47 dreine van huise en sakeondernemings in die dorp, wat se septiese tenks oorgeloop het, laat leeg suig nadat die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit wéér versuim het om dienste aan die inwoners te lewer.

Veiligheid bly vir die organisasie ’n prioriteit, daarom het die buurtwagte in Nelspruit en die Strand vandeesweek ook sigbaarheidspatrollies gehou.  

Die Nelspruit-buurtwag tydens ‘n patrollie.

Verder het Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, vandeesweek getuig in die moordsaak van Sakkie (67) en Ina (62) van den Berg, wat in 2019 op hul plaas naby Boshof in die Vrystaat vermoor is. Hy is genader om as deskundige oor die omvang van plaasaanvalle en -moorde en die impak daarvan in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein te getuig.

Soortgelyke plasings