|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het een van sy bedrywigste weke in die howe gehad met die haatspraak-saak teen Julius Malema en die EFF wat in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor is.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het as deskundige getuig oor die omvang en impak van plaasmoorde op slagoffers. Hy het ook getuig oor die invloed wat politieke uitsprake en die sing van liedere soos “Kill the Boer, Kill the Farmer” op slagoffers het. Malema is deur adv. Mark Oppenheimer, namens AfriForum, gekruisondervra. Malema het volgehou dat hy niks verkeerd sien met die sing van bevrydingsliedere nie en ook dat die trauma van wit mense in plaasaanvalle hom onaangeraak laat.

Julius Malema tydens die haatspraak-saak teen hom en die EFF.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan ook vir Nicolene Swart by in die saak teen haar man wat daarvan aangekla word dat hy haar aangerand het met die doel om haar ernstig te beseer. Die verhoor sal na verwagting van 7 tot 9 Junie 2022 duur. 

Die burgerregteorganisasie het ook begin om sy strukture landwyd te mobiliseer om sterk standpunt in te neem teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat in Maart 2022 vir openbare raadpleging beskikbaar gestel sal word. Volgens AfriForum is dié wetsontwerp deel van die ANC-regering se haatveldtog teen Afrikaanse kinders en Afrikaanse skole. Die regering wil voortaan voorskryf wat skole se taalbeleid moet wees en ook inmeng in die aanstelling van personeel.

AfriForum het ook vandeesweek ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid gemaak om kapsie te maak teen die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Volgens Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, is die NGV gedoem om te misluk soos talle ander semi-staatsinstellings wat wanbestuur word en onder korrupsie gebuk gaan.

Op plaaslike vlak het die Belfast-tak gehelp om dié dorp skoon te hou met die aanbring van asblikke op sleutelpunte in die dorp. AfriForum se Lichtenburg-tak het in samewerking met ander rolspelers meer as 100 slaggate in dié dorp gevul.

Soortgelyke plasings