|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Gemeenskappe wat verantwoordelikheid vir hul eie omgewing aanvaar, is gemeenskappe wat floreer. AfriForum se taklede en vrywilligers het vandeesweek op talle plekke in die land slaggate gevul, waterlekke herstel, bome geplant en sypaadjies skoongemaak.

Die burgerregtewaghond het ook vordering gemaak in die stryd teen beoogde mynbouaktiwiteite by die Krugerwildtuin.

’n Hofbevel is bekom wat Barbara Creecy, Minister van Bosbou, Vissery en Omgewingsake, se besluit om ’n omstrede mynaansoek te hersien, tersyde stel. Dié aansoek is reeds in 2019 ingedien om digby die Nasionale Krugerwildtuin te myn. Die stryd duur in die hof voort.

AfriForum het ook besluit om regstappe teen Fikile Mbalula, Minister van Vervoer, in te stel ná sy aankondiging dat die departement nie die grasietydperk vir bestuurderslisensies wat verval het, ná 31 Maart 2022 gaan verleng nie. Dit ondanks die feit dat die regering steeds nie in staat is om behoorlike dienslewering te bied nie en dat talle lede van die publiek etlike maande gelede hul lisensie-aansoeke ingedien het. AfriForum wil hê dat die grasietydperk vir die hernuwing van bestuurderslisensies vir ’n redelike tydperk ná 31 Maart 2022 verleng word.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het ook vandeesweek Laerskool Fairland in Randburg en die Bospatat Kleuterakademie in Pretoria besoek. “Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Wat veiligheid betref het die AfriForum-buurtwag in Stilfontein ’n besige maand agter die rug wat daartoe bygedra het dat die misdaadsyfers in die dorp gedaal het. Altesaam 128 patrollies is gery en ongeveer 4 478 km is tydens hierdie patrollies afgelê. Die buurtwag het talle arrestasies uitgevoer en die verdagtes aan die SAPD oorhandig.

AfriForum se Malalane-buurtwag het op sy beurt tydens ’n patrollie op 270 liter gesteelde diesel beslag gelê. Die diesel is uit trokke in die dorp gesteel.

In Potchefstroom is 81 m² se slaggate met 245 sakkies teer gevul in paaie wat hoë volumes verkeer dra. Die tak het ook agt nuwe eikebome in die historiese eikeboomlaning geplant, nadat sommige van die ouer bome gevrek het. Die bome is deur inwoners van die Damarea geskenk en in Calderbanklaan aangeplant.

Gedeelte van Sasolburg voordat die gras gesny is.

In Sasolburg het die tak 33 ha gras gesny, terwyl sypaadjies skoongemaak en bome opgesny is. 73 slaggate is ook gevul met teer wat die publiek geskenk het.

AfriForum se Strand-tak het ook op 2 Maart in samewerking met die Strand Patrol-buurtwag verskeie bome en bosse by Gants Plaza in die stegie by Mynhardtstraat gesnoei in ’n poging om die area te beveilig. (Hooffoto)

Soortgelyke plasings