|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum se takke, vrywilligers en lede het op verskeie maniere hul deel gedoen om hul dorpe ’n hupstootjie te gee, maar die grootste sukses hierdie week was om ’n stokkie voor die regering se plan te steek om R50 miljoen aan Kuba te skenk.

AfriForum het ’n dringende interdik bekom om die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) te verhoed om R50 miljoen aan Kuba te skenk. Die tweede deel van AfriForum se strategie behels ’n hersieningsaansoek op ’n latere datum om die regering se besluit om die geld aan Kuba te skenk, om te keer.

“Ons is baie bly dat ons dit reggekry het om hierdie onwettige en skandalige skenking te keer. Ons is optimisties dat ons hersieningsaansoek suksesvol sal wees en ’n einde aan die saak sal maak,” sê Reiner Duvenage, veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Die AfriForum-tak in Nelspruit het in samewerking met Wecare4Nelspruit en die Claremont GPF die kante van die Uitkyk-pad skoongemaak. Dié pad was erg toegegroei met bome en bosse.

Die takke is gesnoei, gras is gesny en hope grond is van die padoppervlak verwyder sodat stormwaterdreine weer doeltreffend kan funksioneer en die pad veiliger vir voetgangers en fietsryers kan wees.

“Dit is belangrik dat ons gemeenskappe besef dat verandering nie gaan plaasvind tensy ons selfdoen en self inspring om projekte soos dié van stapel te stuur nie,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Die sprinkaanplaag in die Noord-Kaap is een van die ergstes ooit. Volgens Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak, is die plase in die omgewing baie ver uitmekaar en boere ry op eie onkoste met hul bakkies om die plaag te bestry. “Ná die goeie reën wat die lang droogte gebreek het, het die gras mooi gegroei, maar die sprinkaanplaag vernietig al die nuwe weiding wat die boere broodnodig het. Daarom het ons dit goedgedink om 400 liter brandstof te skenk om die boere te help.” 

AfriForum se Groter Moot-tak het oor die langnaweek in samewerking met gemeenskapslede ’n skoonmaakprojek geloods en die spruit tussen 24ste- en 25ste Laan, langs Terblanchestraat, skoongemaak. Die tuinspan het ook ses slaggate in die Moot-omgewing gevul.

“Dit is bemoedigend dat ons lede deelneem en betrokke raak by AfriForum se selfdoen- en veg-en-bou-planne. Ons is dankbaar vir elkeen wat betrokke is,” sê Ruan du Plessis, voorsitter van dié tak.

Soortgelyke plasings